Onderwys - Toekomsplanne moet nu00f3u00fa gesmee word
Onderwys - Toekomsplanne moet nu00f3u00fa gesmee word

Onderwys - Toekomsplanne moet nóú gesmee word

Dani Booysen
Na onlangse navrae by vriende en oud-kollegas het ek verneem dat 26 onderwysers (‘n paar oud-onderwysers ingesluit) al in hul werks- en leefkringe die lewe weens Covid-19 die lewe gelaat het.

Dit is net onderwysers uit die //Kharas-, Khomas- en Hardapstreke waarvan hulle weet. Ek sal graag inligting uit die Noorde, Weste en Ooste wil bekom.

Volgens Napso het 17 privaatskole 58 leerlinge, onderwysers en ouers in hierdie kwartaal verloor. Hierdie statistiek sluit ook drie skoolhoofde in, naamlik mnre. Henry McCarthy, Neil Prinsloo en Bakkies Grobbelaar .

Die afwesigheidstatistiek vir die periode is ewe ontstellend. Ek is oortuig die onbekende syfers vir staatskole is minstens ewe erg.

Baie ouers en onderwysers het al gesterf en huishoudings en onderwysgemeenskappe is ernstig ontwrig.

Ná 1989 was die regering met talle gebreke en ongelykhede gekonfronteer. Die strewe was om die skole te integreer, onderwysbronne op ‘n billikheidsgrondslag aan te wend, kwaliteit van onderwys te verbeter en om demokrasie in skole te vestig. Dit was ‘n opdraende stryd. Fondse was nie aldag voldoende nie en beleid het soms nie die verwagte impak gehad nie as gevolg van swak implementering. Nou, ná net meer as ‘n jaar van die pandemie, bly daar ‘n hele paar styl berge om te klim.

Met die heengaan van onderwysers, ouers en ander inwoners gaan wysheid, vaardigheid, kennis en emosionele en finansiële steun verlore. Dit het beslis ‘n negatiewe impak op leidinggewing en ondersteuning aan jong onderwysers by skole en ook indiensopleidingsprogramme word beïnvloed.

Universiteite sal opnuut moet kyk na hul kurrikula vir onderwysopleiding en die ministerie sal meer selektief moet wees in hul werwing en aanstelling van onderwysers. Die ministerie sal meer na skoolhoofde moet luister as wat tans die geval is. Hulle is meer bekend met plaaslike omstandighede.

Ek glo die somtotaal van die verlies aan onderrigtyd is nog nie naastenby bekend nie. In die berekening hiervan moet ‘n mens kyk na onderwyser- en leerlingafwesigheid, na gedwonge vakansies en die alternatiewe-dae bywoningsmodel. So ‘n berekening sal mens ‘n idee gee hoeveel van die leerplan aandag gekry het en hoeveel kennis en vaardighede aangeleer is.

So ‘n sommetjie sal mens bang maak. Die moontlikheid is groot dat ons opgeskeep gaan sit met groot getalle halfgeskoolde en halfgeletterde jong volwassenes.

Hier is ‘n uitdaging waarvoor die ministerie daadwerklike oplossings moet vind.

In Suid-Afrika het sowat 500 000 leerlinge sedert die aanvang van die pandemie die skool voortydig verlaat. Dit gebeur volgens navorsing meestal ná lang periodes van afwesigheid.

Een van die redes is honger. Baie leerlinge is afhanklik van voedingskemas by skole. Die bron van voedsel is afgesny deur lang, gedwonge vakansies. Sommige kerke moes ook hul sopkombuise sluit weens beperkinge op openbare byeenkomste.

‘n Ander bekommernis is kostedoeltreffendheid en sisteemproduksie. Die kernvraag hier handel oor die aanwending van onderwysers, fasiliteite, toerusting, tyd en geld. Die effektiewe aanwending van die bronne moet verseker dat die meerderheid van leerlinge wat tot graad 1 toegelaat word hul skoolloopbane suksesvol binne 12 jaar sal voltooi. Hoe gesond die gemeenskap gaan wees (eksterne effektiwiteit) hang ook af van werkskepping vir skoolverlaters.

Die toekomsprentjie lyk alles behalwe rooskleurig.

Ons kan nie wag vir die dag waarop die Corona-pandemie tot ‘n einde kom nie; ons moet nou ons navorsing doen en die strategiese planne ten minste op papier kry.

(Met vrug gebruik gemaak van Philip Coombs se Major Problems Facing Educational Planning in the Next Decade, 1974.)

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer