Onderwys - Terugblik op 'n jaar soos geen ander
Onderwys - Terugblik op 'n jaar soos geen ander

Onderwys - Terugblik op 'n jaar soos geen ander

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans

Die Covid-19-pandemie het onlangs verjaar en is steeds met ons. Dit het deel van ons leefwyse geword; dis die "nuwe normaal" waarvan onder meer president Cyril Ramaphosa praat.

Die reaksie van die meeste lande, selfs die wat aanvanklik argeloos was, is nou positief en verantwoordelik. Dit het tot gevolg gehad dat die infeksiekurwe in die meeste lande gedaal het met ‘n verbetering in die herstelkoers. Die sterftesyfer het ook afgeneem.

Mens sien nogtans steeds onverantwoordelike optrede op straat. Alle mense handhaaf nie die neergelegde veiligheidsmaatrëels nie, maar danksy die vordering wat gemaak is, is hulle in die minderheid.

Ek is van mening dat dit belangrik is om navorsing oor mense se persepsies en ervarings te begin doen. Op die webtuiste van Unesco se Associated Schools Network kan leerlinge, onderwysers, skoolköordineerders, direkteure en ouers hulle persepsies en ervarings oor die impak van Covid-19 met andere deel. Hierdie persepsies wissel van realisties, negatief en bekommerd tot baie positief en optimisties.

Baie mense het verwag dat Covid-19 nooit ‘n pandemie tot gevolg sou hê nie, maar die hoop het spoedig vervaag toe die teendeel duidelik geword het. Aanvaarding het ‘n positiewe houding by die meeste mense tot gevolg gehad.

Emma, 'n leerling van Portugal, beklemtoon dat Covid-19 nie onoorwinlik is nie en moedig almal aan om moedig te bly.

Elvira van Rusland betreur die gebrek aan die tradisionele kommunikasie tussen leerlinge, maar moedig ook medeleerlinge aan om die die neergelegde protokol getrou te volg.

Teeba van Bagdad in Irak is veral beïndruk met die wyse waarop onderwysers hulle van leermateriaal, opdragte en algemene leiding met behulp van Telegram voorsien het.

Faten, ‘n hoërskooldirekteur in Irak en ander, is veral bekommerd oor onderrigtyd wat verlore gegaan het en hy pleit by kollegas dat elkeen sy/haar pligte baie effektief tydens die tyd van afsondering en aanlynonderrig moet nakom.

Vir Mariette, ‘n student in Griekeland, kan Covid-19 ‘n positiewe impak op verhoudinge tuis hê. Sy is van mening dat die verbod op die tradisionele skoolaktiwiteite die geleentheid aan sibbes bied om hul bande met mekaar te verstewig. Hulle het nou tyd om verskillende speletjies te speel, maar sy waarsku dat aanlynstudie nie afgeskeep moet word nie.

Maria van Spanje sê die pandemie is goed teengestaan deur toegewyde leerlinge en onderwysers wat deur goeie samewerking virtuele klaskamers geskep het. Sy is uiters positief oor die toekoms.

Ander mense het die afgelope jaar egter negatief ervaar.

Vir Arseel, ‘n ouer van ‘n graad 12-seun, is die toekoms boonop vol onsekerhede. Hy/sy is ook bekommerd daar die kind nog nie vir tersiêre opleiding gekeur is nie. Anthtunya, ‘n onderwyser in Mongolië, en haar graad 12-leerlinge deel die bekommernis.

Marwa, ‘n eerstejaarstudent in Lebanon, is net so ongelukkig oor die duister toekoms. Sy is wel tot ‘n naskoolse instansie toegelaat, maar aanlynonderrig gaan voort en sy sal nie die voorreg smaak om fisies op ‘n kampus te kom nie. Maar sy bly positief oor die toekoms en gebruik die tyd om haarself te ontdek; haar eie krag te vind. Sy moedig medestudente aan om moedig te bly en die saakmakende waardes in die lewe te soek.

‘n Onderwyseres van Namibië en ouer, Ndapewa, is verbonde aan ‘n skool in die armste gedeelte van die Khomasstreek. Sy was uiters bekommerd oor behoeftige leerlinge wat die een ete by die skool moes verbeur en wie nie oor slimfone beskik nie. Sy moedig leerlinge aan om die tyd by die huis produktief te gebruik deur te lees en op wiskunde te konsentreer.

Twee baie positiewe bydraes kom van Erdenechimeg, ‘n maatskaplike werker van Mongolië, en Kaspar, ‘n student van Estonia. Hulle pleit vir veerkragtigheid, kollektiewe optrede, selfdissipline, verantwoordelike optrede en omgee vir mekaar.

Kaspar sê ons moet sterk staan, nooit hoop verloor nie en na ons veiligheid omsien.

Hier is duidelik vir ons ‘n klompie lesse te leer.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer