Onderwys - Jaareinde se raad vir 2020
Godfrey Kleinhans - Die jaar 2019 lê op sy rug en 'n doodse stilte heers oor skoolpersele.
Hier en daar dwaal kinders in die strate rond. Die meeste hou hulle deesdae met rekenaarspeletjies besig of chill net eenvoudig voor die televisie.
Nou die dag kom ek 'n groepie teë wat werk vir die vakansie soek. Deur hierdie rubriek sal ek graag 'n pleidooi aan besighede rig om sulke versoeke gunstig te oorweeg.
Ek het sedert laerskool tot in my voorlaaste universiteitsjaar 'n naweek- en/of vakansiewerk gehad. Dit leer 'n kind nie net die waarde van arbeid nie, maar hy of sy is nie aangewese op die ouers vir sakgeld nie. En, soos dit in my geval was, leer dit die kind ook om tot die huishouding by te dra.
Baie kinders dwaal in die strate rond net om uit die oog van die ouers te kom. En ledigheid bly natuurlik die duiwel se oorkussing . . .
Hierdie tyd van die jaar is die eksamenuitslae van elke kind hopelik vir hul ouers van kardinale belang. Sommige ouers kan nie uitgepraat raak oor hoe goed hul kinders gevaar het nie terwyl ander maar taamlik skaam, of selfs die josie in daaroor is. Sommige uit die laaste groep sal nie huiwer om die skuld voor die deur van die kind te plaas nie, terwyl ander sommer prontuit die onderwyser of selfs die skoolhoof sal beskuldig.
Baie van hierdie kinders is nog jonk en hulle kan verbeter op vorige pogings, maar vir ander kan die skooldeure finaal sluit. Dit is die tragedie van swak skoolprestasie en dis om van te ween.
'n Mens wil aanvaar dat baie onderwysers 'n bevredigende jaar gehad het. As oudonderwyser weet ek daar is van hulle wat maar te bly is om die bloedjies aan hulle ouers terug te besorg. Die idee van in loco parentis kan soms net te veel raak.
Baie onderwysers sal dalk gereed maak om elders te gaan uitspan terwyl ander tyd saam met die gesin of familie wil deurbring. Baie onderwysers in hierdie deel van die wêreld is naweekboere en die droogte sal hulle definitief na die vee in die kommunale gebiede dwing.
Waar onderwysers hul ook al sal bevind, hulle verdien die rus.
Hierdie tyd van die skooljaar herinner my aan die periode in die kerkkalender wat as Advent bekend staan. Dit is die tyd wanneer Christene nie net uitsien na die herdenking van die geboorte van Jesus Christus nie, maar ook na sy wederkoms; dus: verwagting en afwagting.
Lede van skoolgemeenskappe sien uit (almal nie so reikhalsend nie . . .) na die uitslae van die eksterne eksamens. Die verwagting is dat die minder funksionele skole baie beter as in die verlede sal vaar. Ons bid en vertrou die hoop sal nie beskaam nie.
Skoolprestasie is nie toevallig of kan nie net "gewens" word nie. Dit vereis deeglike beplanning, weldeurdagte en goed geformuleerde, objektiewe, voortdurende implementering en effektiewe monitering. 'n Proses van refleksie gegrond in deeglike analises van die vorige periode behoort te vra hoe die volgende die afgelope jaar gedoen is:
• Die aansoeke om opname en werklike opname met die aanvangs van die akademiese jaar
• Die aanwending van fasiliteite en uitrusting ooreenkomstig die behoeftes van die leerlinge, beskikbare onderwysers en kurrikulumopsies
• Die plasing van elke onderwyser ooreenkomstig sy of haar opleiding en ervaring binne die kurrikulumopset
• Die korrektheid en effektiwiteit van kurrikulêre en ekstra-kurrikulêre proramme (skoolrooster)
• Tyd bestee aan klasbesoeke, evaluering van onderwysers en aanbevelings vir regstelling
• Kommunikasie, vloei van inligting en vergaderings
• Kommunikasie met onderwysowerhede oor behoeftes van die skool
• Onderrig- en leertyd wat verlore gaan as gevolg van onderwyser- en leerlingafwesigheid
• Tyd bestee aan ouers (insluitend ouer-onderwyser-vergaderings) en ander vennote van die skool
• Tyd bestee aan kinders met probleme en huisbesoeke aan leerlinge
• Baie belangrik: Hoe die skoolbestuur die kritieke gebrek aan geld hanteer het
Hierdie is maar 'n klompie van die deurslaggewende aspekte wat deel van so 'n ontleding moet wees alvorens daadwerklike beplanning kan plaasvind. Die lysie is geensins uitgeput nie en dit moet 'n kollektiewe poging wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie