Onderwys u2013 Afskeid van
Onderwys u2013 Afskeid van

Onderwys – Afskeid van

Dani Booysen
Iemand het jare gelede 'n artikel getiteld “The bell rang, what now?” geskryf.

Reaksies verskil van skool tot skool. Die algemene begrip is leerlinge moet so spoedig moontlik in die klaskamers onder die wakende oë van onderwysers en prefekte kom. 'n Stilte sal dan oor die meeste skoolpersele neersak en nou moet onderrig en leer in alle erns plaasvind.

Dit is die tradisie – een wat Covid-19, soos vele ander gebruike, nou uitdaag.

Ons is vir die onafsienbare toekoms gedwing om met nuwe oë na die operasionalisering van onderwys te kyk weens verminderde onderrig- en leertyd en sonder die fisieke teenwoordigheid van 'n onderwyser.

Dit is gebiedend noodsaaklik dat ons bestekopname doen hoe ons lewens deur die pandemie geraak word. Covid-19 moet ons leerskool word.

Indien nie, sal onderwysstelsels in die toekoms moeilik ander pandemies oorleef.

Opgrawings het gewys die Egiptenare is reeds voor die geboorte van Christus deur 'n pokkiesepidemie getref. Die virus het later sy weg na die suidpunt van Afrika gevind, waar dit 'n groot deel van die Khoi-gemeenskap uitgewis het.

Van die ouer garde sal weet die siekte is eers in die 1970'ers suksesvol hokgeslaan. As kinders het ons egter sorgeloos deur die periode gegaan.

Die wêreld het oor die eeue heen op talle gebiede veelvuldige lesse uit reaksies op nood geleer.

Aanlyn-, privaat- en tuisonderrig, wat tot normaalweg vir klein groepe in die samelewing beskore was, het nou deel van ons woordeskat geword.

Gemaskerde kinders keer die afgelope weke stuksgewys terug skool toe en afstandreëls moet gehandhaaf word. Leerlinge se beweging op skoolpersele word beperk en by sommige skole mag hulle nie tydens pouses buite speel nie.

Iets waaroor ek verheug is en waarvoor ek lankal pleit, is die implementering van dubbelskofklasse om ekstra ruimte te bewerkstellig. Wat my egter steeds pla, is dat min gesê word oor inklusiwiteit en hoe leerlinge uit laeinkomstegroepe effektief bereik gaan word.

In Bangladesj het die Jaago-stigting as 'n instansie betrokke by aanlynonderrig besef behoeftige gemeenskappe word uitgesluit omdat hulle nie aanlynfasiliteite kan bekostig en onderhou nie. Die organisasie het die Tele Education Initiative gestig om minder gegoede leerlinge te bereik. Individuele leerlinge (en seker die ouers ook) word as deel van die projek deur onderwysers gebel om hulle met uitdagings in onderrig- en leermateriaal te help.

Een oggend het 'n tannie op 'n Afrikaanse radioprogram opgemerk Covid-19 “sal ook huistoe gaan”.

Dit is beslis só danksy die mensdom se geweldige finansiële en intellektuele vermoë, inisiatief en innovering. Maar Covid-19 moet ons leerskool word.

Die virus sal nog lank met ons wees. Daarom moet ons voortdurend bepaal hoe suksesvol ons teenstrategieë is.

Voed ons byvoorbeeld steeds al die kinders wat gewoonlik een ete per dag by die skool ontvang het? Die Verenigende Gereformeerde Kerk se gemeente in Krönlein het soms etes aan tot 200 leerlinge per dag voorsien.

Wat gaan die impak van voeding op geraakte leerlinge se prestasie wees?

Dit is nou die ideale tyd om te leer watter modelle vir aanlyn-, tuis- en privaatonderrig werk die beste en hoe om dubbelskofklasse doeltreffend in te span. Ons moet nou besin oor beleid wat die beste sal werk in soortgelyke situasies. Ons het nou die tyd om dit te doen.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer