Onderwys – Aan die voete van Gamaliël
Godfrey Kleinhans – ‘n Goeie klompie jaar gelede was ‘n Windhoekse onderwyser, nou ook al afgetree, baie ontevrede met die toetspunte van sy leerlinge.
Hy was oortuig hy het sy bes gedoen, maar die leerlinge het geensins aan die verwagtinge voldoen het nie. Nadat hy hulle eers die leviete goed voorgelees het, nooi hy hulle met die woorde: “Kom sit nou aan die voete van Gamaliël dat ek julle kan leer.”
Of hulle geweet het wie Gamaliël was en of hulle toetspunte verbeter het, sal ek nie kan sê nie. Moontlik het hy slegs ‘n nuwe bynaam op die lyf geloop.
Gamaliël was ‘n Bybelse figuur en die seun van Simeon Ben Hillel aan wie se voete die apostel Paulus geleer het. Hy was nie net ‘n kenner van die Joodse reg nie, maar ook een van die grootste Rabbans (onderwysers) van sy tyd. Hy was ‘n kenner en onderhouer van die Joodse tradisies en ‘n aanhanger van die Hillel-tradisie van nie-geweldadigheid.
In daardie tyd was daar geen gestruktureerde leerplanne en leerinhoude nie en die leermeesters het tradisies, verhale en ervarings uit die verlede gebruik. Hierdie narratiewe moes natuurlik suksesse asook mislukkings insluit.
Ek dink Gamaliël en sy eweknieë moes gereeld hul eie en ander bewese ervarings van mense en instansies benut. In die afwesigheid van formele evalueringsprogramme was self-oordenking en inkeer seker die aangewese meetstok.
Refleksie bied nie net ‘n spieëlbeeld van die verlede nie, maar die geleentheid om eie ervarings, eienskappe, optrede en interaksies te evalueer. Dit is ‘n eerlike, openhartige en deursigtige proses en bied die geleentheid tot betekenisvolle verandering.
Die soort oordenking was in die neëntiger jare ‘n groot ding in die onderwyssektor in Namibië. Refleksie oor onderrig en leer is ewe belangrik vir die onderwyser as vir die leerling.
Die strategie behels die voortdurende ontleding van beplanning, eie perspektiewe, besluite, ervarings en handelinge en die situasies waarbinne ons optree. Dit gee insig in jou eie manier van doen en ons kan ons suksesse en mislukkings sowel as ons tekorkominge verstaan en verduidelik. Onderwysers kan dan met hierdie nuwe insig vorentoe beweeg.
Die bietjie leeswerk wat ek oor refleksiewe klaskamerpraktyke gedoen het, het my oortuig my nadruk verlede week op die belang van jarelange ervaring vir vaardigheid en kundigheid is korrek.
Ons leef in tye waarin senior onderwyslui meer moet weet en die uitbreiding van kennis moet tot indiensopleidingprogramme bygevoeg word.
Onderwys is ‘n toekomsgerigte wetenskap, maar ook ‘n tweekoppige Janus. Die een kop kyk na agter terwyl die tweede die toekoms instaar.
Ons kan nie die toekomspad met sukses bewandel as ons nie reflekteer en kennis neem van die bestuurervarings van gister nie. Ons moet gebeure gedurig analiseer en rekord hou van relevante data en inligting om die beste praktyke te identifiseer en die slaggate te vermy.
Ons moet nie net bestuurstyle kan evalueer nie, maar onsself op ‘n openhartige en eerlike manier beoordeel. Ons kan nie gedurig van ander verwag om ons te vertel hoe goed of swak ons is nie. Ons moet self ontdek hoe ons van punt A na B beweeg het en wat die ervarings op hierdie pad was. Hierdie tipe leer bring insig en begrip.
Ons mag en moet geensins die jonger garde die geleentheid ontsê om besluitnemende posisies te vul nie. Hulle sal egter met groter vertroue kan vorder as hulle op bewese kennis, insig en vaardighede kan reken, waarvan ‘n magdom van ervarings die fondament is.
Dit word gevind aan die voete van Gamaliël.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie