Onder 20u2019s hou Rehoboth punteloos
Onder 20u2019s hou Rehoboth punteloos

Onder 20’s hou Rehoboth punteloos

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die nasionale o.20-span het ’n paar wysigings in sy benadering aangebring wat vrugte afgewerp het toe hy Saterdagoggend in die Hage Geingob-stadion met 32-0 teen die NRU premierligaklub FNB Rehoboth-rugbyklub gewen het.

Afrigter Jood Opperman se jongspan was rustyd met 15-0 voor, nadat FNB Wanderers hulle laasweek met 17-7 ondergekry het.

Die onder 20’s was die afgelope week in ’n oefenkamp ter voorbereiding op Rugby Afrika se onder 20 Barthés-toernooi wat van 24 Junie tot 4 Julie in Nairobi, Kenia, voorlê.

Die wenspan se drieë is deur die twee skrumskakels Tyrese de Wee en Brian Bayer, vleuel Franklin Karigeb, heelagter Jeandré Loubser, en slot Zander Bronkhorst gedruk. Die losskakels Raschano van Rooi en Samuel Poulton het elk een doelskop geslaag, terwyl Van Rooi ook ’n strafskop bygevoeg het.

“Rehoboth het ook van hul jonger spelers kans gegee, maar ons het skrums en lynstane het goed gevaar,” sê Opperman.

“Ons het ook slaankrag met ons senters en vleuels, hoewel ons dit nog nie volgens ons volle potensiaal benut nie.

“Die oefenkamp was van groot nut. Ons het aan die fiksheid, rugbyvaardighede en algemene rugby-opleiding gewerk. Ek glo ons het ’n goeie finale toerspan gekies, wat tans op goedkeuring van die NRU wag voor dit aangekondig word.

“Een of twee voorspelers is nog nie 100% wedstrydfiks nie, maar agterlangs het ons baie veelsydigheid en ek glo ons het die regte kombinasie om Kenia, Senegal en Madagaskar te bowe te kom.”

Rehoboth se afrigter, Johann Wohler, sê hul span was op “vrywillige” grondslag nie op volle sterkte nie, maar hy is ietwat teleurgestel dat meer manne nie hand opgesteek het nie.

“ Ons stutte en haker het vanjaar maar nog min gespeel en is ’n paar keer gestraf. In die tweede helfte het ons darem meer fisiek ingeklim, maar ek moet sê die o.20’s lyk na ’n goeie span en ons wens hulle die beste toe. Ongelukkig het ons ons eerstespanslot Conwill Draghoender met ’n enkelbesering verloor. Ons vat maar elke aspek van die dag en berei voor om oor twee naweke teen Unam te speel.”

Kommentaar

Republikein 2026-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer