Onder 20u2019s fnuik Amajita
Onder 20u2019s fnuik Amajita

Onder 20’s fnuik Amajita

Tielman vanlill
Namibië se Jong Warriors sokkerspan het Saterdag in die Sam Nujoma-stadion in Windhoek daarin geslaag om Amajita (Suid-Afrika) tot ’n doellose uitslag in hul eerste kwalifiserende wedstryd vir die 2017 CAF Afrika Nasiesbeker te dwing.
Die sokkerreus van oorkant die Oranjerivier het dalk effe oorgerus hier aangekom om vinnig met sy kleinboet te kom klaarspeel, maar hul Namibiese eweknieë het nie toegelaat dat die besoekers ’n doel weg van die huis behaal nie. Indien Suid-Afrika met ’n doel kon wen, sou dit sake heelwat moeiliker vir die Jong Warriors gemaak het as hulle oor drie weke in Suid-Afrika vir die tweede wedstryd opdraf.
Met sake gelykop, kan die Warriors dalk net die Suid-Afrikaners in hul agterplaas uitoorlê en na die volgende ronde deurdring.
Afrigter Gerald Güther se Namibiërs het die reusebotsing puik hanteer en met rotsvaste verdediging en taktiese presiesheid seker gemaak dat die besoekers nie die oorhand kry nie.
Die gasheerspan het nie net verdedig nie, maar het gesorg dat Mondli Mpoto, doelwagter van Amajita, sy passies moet ken. Halfpad deur die eerste helfte het McCartney Nawaseb vanaf 25 meter so byna met ’n doelskop geslaag, maar Mpoto het dit behendig gekeer.
Met Katlego Mohame en Tercius Malepe in beheer van Amajita se ver­dedigingslinie, was doelkanse maar skraal in die eerste helfte. Vir die ­Namibiërs het Kennedy Eib en Baloyi Tsandib seker gemaak dat hul opponente nie die doelnet tref nie.
In die tweede helfte is heelwat meer kanse geskep om doele aan te teken, maar die geluk het die Namibiërs ontwyk. Met 49 minute verstreke, het Katiti Hakuria na Nawaseb laat loop wat nie daarin kon slaag op die bal op koers te stuur nie. Minute later het Pandeni Kandjajambanga, kaptein van die Jong Warriors, ’n dwarsskop na die doelhok geloods, maar kon nie een van sy aanvallers vind nie.
Thabo Senong, afrigter van Amajita, het in ’n taktiese skuif vir Sbongakonke Mbatha aan die spits van sy aanvalslinie opgestuur. In die 54ste minuut ontsê die Namibiërs die besoekers hul eerste doel toe die bal skadeloos voor die doelhok weggekeer word. Namibië se laaste kans om daardie ontwykende doel te bewerkstellig, kom in die 63ste minuut toe George Hummel (junior) vir Kennedy Eib vanaf ’n hoekskop vind, maar Mpoto is weer op sy pos om die bal te keer.
Venovineja Tjikundi het nie sy beste dag beleef nie en is as spelskepper deur Albert Klukowski vervang, terwyl Romeo Kasume by Reginald Willemse as middelveldspeler oorneem. Hiha Katjivena verlos Jandjamuje Maharero van sy dienste wat ietwat deur die besoekers geïsoleer is.
Ná Saterdag se bemoedigende uitslag glo Güther steeds dat sy spelers die knoop kan deurhaak.
“Die spelers het hul bes probeer om ’n doel aan te teken, maar die geluk was nie aan ons kant nie. Ek gaan dieselfde spelers vir die volgende wedstryd op 11 Junie gebruik, want die manne is positief en gereed om hul stempel af te druk. Dit gaan ’n harde en taai wedstryd op hul tuisfront wees, maar ons gaan daarheen om te wen, want ons glo dat dit moontlik is,” het die afrigter gesê.
Senong verwag ook ’n ongenaakbare beslissende wedstryd.
“Ons is glad nie tevrede met vandag se uitslag nie, maar is steeds trots op die spelers se toewyding. Dit gaan ’n harde neut wees om te kraak, want ons kon nie ’n wegdoel aanteken nie. Ek verwag dat Namibië in die tweede wedstryd met mening gaan aanval,” het die Suid-Afrikaner gesê.
Die herontmoeting is op 11 Junie in Johannesburg, waarna die wenner in die volgende ronde teen óf Mosambiek óf Lesotho opdraf.

Kommentaar

Republikein 2026-11-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer