Onbekende siekte teister San

'n Ondersoek is van stapel gestuur na 'n onbekende siekte wat onder die San-gemeenskap in die Kavango-Oosstreek uitgebreek het.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – 'n Aansteeklike siekte onder die San-gemeenskap in die Kavango-Oosstreek word deur die staat se gesondheidswerkers ondersoek ná 'n dringende versoek om hulp verlede week.

Verskeie lede van die San-gemeen­skap by Ndama, 'n informele nedersetting naby Rundu, is glo deur die ongediagnoseerde velsiekte geraak wat oop sere en letsels veroorsaak.

Mediese kaarte dui aan dat die siekte reeds onder gemeenskapslede van alle ouderdomme versprei het.

Hoewel dit reeds maande lank voorkom en verskeie besoeke aan plaaslike hospitale en klinieke afgelê is, is geen diagnose tot dusver gemaak nie.



DRINGENDE VERSOEK

Die Vroueleierskapsentrum (WLC) het verlede week 'n dringende versoek om hulp aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, die afdeling vir gemarginaliseerde gemeenskappe in die kantoor van die adjunkpresident asook die Ombudsman se kantoor gerig om die siekte te help identifiseer en te behandel.

Dit is nie duidelik hoeveel mense geraak word nie.

“Ons is ingelig dat dit in Februarie vanjaar in die Nconocoma-nedersetting begin het, nadat kinders van Ndama hul familie besoek het en met 'n veluitslag teruggekeer het, wat later in oop wonde ontwikkel het en deur die nedersetting versprei het,” het die WLC gesê.

Die WLC is ingelig dat mense wat hulp by klinieke of hospitale gesoek het, slegs parasetamol en kalamienroom gegee is.

Ander is aangeraai om medisyne by private apteke te koop, het die WLC gesê ná gesprekke met die gemeen­skap. “Die behandeling het nie gehelp nie en geen bloedtoetse of ander relevante toetse is gedoen om die oorsaak van die infeksie te vind nie,” het die WLC gesê.

Hulle het ook gesê geen personeellede van die ministerie van gesondheid of enige werkers in gemeenskapsgesondheid het die nedersetting besoek om vas te stel wat die situasie is

nie.



ONDERSOEK

Die ministerie het gister gesê dit het intussen opdrag gegee dat 'n ondersoek van stapel gestuur moet word.

“Die Kavango-Oosstreek se direktoraat van gesondheid samel tans die nodige inligting in en ons sal terugkom na jou toe sodra dit beskikbaar is,” het die MoHSS se woordvoerder, me. Manga Libita gesê.

Die WLC het verlede week gewaar­sku dat ingryping dringend nodig is, omdat “dié 'n hoogs aansteeklike siekte is wat vinnig onder die San-gemeenskap versprei. Ons eis dat hul reg op gesondheid en waardigheid gerespekteer word.”

Die WLC se Nadia April het gesê die ministerie het hulle die afgelope Maandag gekontak en bevestig dat die kwessie ondersoek sal word.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer