Omaruru woedend oor sy nombessie

Des Erasmus
Des Erasmus -‘n Boom het die laaste strooi geword in ‘n sluimerende getwis tussen inwoners van Omaruru en die stadsraad.

‘n Noodvergadering van die Inwonersvereniging van Omaruru (ORA) is gister gehou nadat ‘n bruin-ivoorboom, inheems ook bekend as ‘n nombessieboom, langs die hoofstraat en tussen die nuwe gebou van die kragverspreider Erongo Red en die munisipaliteit, eers gesaag en gekap en toe uitgehaal is.

Saam met die bittereinder ná dekades van droogte moes ‘n palmboom neffens hom ook net uit en weg. As rede is by die “slagplaas” aangevoer dat die twee bome die aansig van die gebou van Erongo en die uitsig van die werkers belemmer. Die taamlik bedekte munisipale dekreet dat die bome moet waai, het teen die einde van verlede week bekend geword. Dit het tot inwonersverset in die vorm van ‘n petisie met honderde handtekeninge vir die behoud van die bome gelei.

Aanvanklik is op ‘n noodvergadering Maandagoggend tussen die stadsraad, munisipaliteit en die beswaarde inwoners besluit. Van inwonerskant was daar ‘n onderneming dat kundiges die bruin-ivoorboom in ‘n netjiese vorm sou kom snoei. Van die vergadering het niks gekom nie en toe die werkers met die snoeitoerusting opdaag, was die byle reeds aan die wortels van die ou grote. In woordewisselings het van die werkers beweer nog bome gaan op die terrein van die munisipaliteit gekap word as deel van ‘n groter verfraaiingsproses.

Voor gisteroggend se ORA-vergadering het die voorsitter, mnr. Bobby Griebel, te kenne gegee dat die stadsraad onder leiding van die burgemeester, me. Hendriena Gebhardt, nou op vele terreine tot verantwoording geroep gaan word. Hy het ook die begunstiging van Erongo Red deur die stadsraad beweer. As voorbeeld het hy ‘n bepaling aangehaal dat van eienaars verwag word om een parkeerplek vir elke 100 vierkante meter beboude gebied beskikbaar gestel moet word. In die geval van die nuwe gebou van Erongo Red is daar niks.

“Hoekom is ‘n behoorlike uitleg nie gedoen voordat met die bouery begin is nie? Hoekom was daar geen omgewingstudie nie? Waar was die stadsingenieur? Hierdie Hendriena doen net wat sy wil.”

So het mnr. Griebel gister voor die Ora-vergadering gesê. “Erongo Red voel vir die omgewing blykbaar net mooi niks. Die boom het die status van ‘n beskermde spesie geniet, maar nou word aangevoer die bepalinge van bosbou geld nie ‘n munisipale gebied nie. Aalwyne word glo nou vir die terrein gesoek. Weet die munisipaliteit dat ‘n permit ‘n vereiste vir die verwydering van ‘n aalwyn is?”

Griebel het ander voortslepende kwessies opgehaal waaronder die dorp gebuk gaan.

Hy sê in Lunapark in die hoofdorp word geriewe geplunder en weggedra. In die vervalle strate hoop vullis op, by die Onafhanklikheidstadion is ‘n heining weggedra, water- en rioolwater dam in die strate op, rou vleis word deur smouse voor die gebou van NamPost verkoop, groot gate bestaan in paaie wat na eksklusiewe lodges lei, in die dorp is daar nie meer openbare toiletgeriewe nie en die mense staan en doen hul ding sommer teen die mure.

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer