Omaruru-begraafplaas deel van streek se geskiedenis
Omaruru-begraafplaas deel van streek se geskiedenis

Omaruru-begraafplaas deel van streek se geskiedenis

Die gemeenskap van Omaruru het saamgestaan en geld ingesamel om die begraafplaas op die dorp te onderhou.

Me. Astrid Traupe en mnr. Gunnar Mohr van die Klein begraafplaas-komitee, het die onderhoud van die begraafplaas oorgeneem nadat me. Gudrun Müller twee jaar gelede dood is.

Die geld vir die instandhouding het begin opdroog en dié twee komiteelede het met die idee van ’n mark vorendag gekom. Handgemaakte items asook potplante is deur die Omaruru-gemeenskap nie net gemaak nie, maar ook geskenk. ’n Bekende Zimbabwiese skrootkunstenaar op die dorp het ook van sy werke vir die mark geskenk.

Alles was in plek, maar die Covid-19-inperkings en gepaardgaande maatreëls het die mark se planne tot ’n halt geroep en mense moes geduldig tot September wag.

Al die maatreëls is nagekom en mense het nie net die mark nie, maar ook koffie en koek in die tuin geniet.

Die bedrag geld wat ingesamel is, getuig van die mark se groot sukses.

“Ons het genoeg geld ingesamel om die vroue te kan betaal wat daagliks vir vier ure die begraafplaas onderhou. Die Omaruru-munisipaliteit is steeds verantwoordelik vir die water wat benodig word,“ het Mohr gesê.

Die begraafplaas is beslis ’n besoek werd vir mense wat in die geskiedenis van die streek belangstel en danksy die klein begraafplaas-komitee ’n goed bewaarde juweel.

Kommentaar

Republikein 2025-12-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer