Om ’n voëltjie te hoor fluit . . .
Kort voor Namibië se inperking op 27 Maart begin, dra my suster se kat vir haar ‘n piepklein babaduifie aan. Lewend, ongeskonde, maar (volgens haar) so lelik soos die nag.
Sy klim op die foon: “Elvi, hy lyk soos die Tokkelossie,” sê sy vir my. Sy’t gegoogle, dis een of ander babaduifie. Maar sy kan hom nie hou nie, sy werk by die hoenderfabriek en dit is ‘n bio-sekuriteitskwessie.
En Tokkelossie moet elke vier ure kos kry.
Ek weet nie hoe ek altyd in dié situasie beland nie, maar die afvlerk voëltjies van die lewe beland by my. Dis ‘n feit soos ‘n koei.
Nou ja, dalk is dit ‘n bestiering, dink ek, die sluiting van kleuterskole vir die virus beteken in elk geval ek moet ‘n tuiswerk- en tuismamma wees. Nog een voëltjie in die nes is seker nie die ergste nie. Hopelik raak hy vinnig groot en kan hy by sy wilde geveerde vriende in die bos aansluit.
Sy laai hom af met ‘n boksie, handdoekie en ‘n doopnaam: “Covid.”
In Jakaryntjie se peuter-kleuter-taal word hy gou as “Kiewiet” herdoop. Ek doen navorsing by duifreddingsentrums. Kiewiet moet met fênsie kos grootgemaak word en ons maak toe maar so, vier keer ‘n dag.
Die meeste duiwe verlaat die nes ná ‘n maand, word ek ingelig. Afhangende van watter soort hulle is.
Op die een of ander manier slaag ons die grootmaakproses met vlieënde vaandels.
Fast forward ‘n maand en ‘n half en Kiewiet is besig om ‘n bosduif te raak. Een wat nie die nes wil verlaat nie en wat nou heeldag aandring op sy fênsie grootmaakkos. Al pik hy reeds sade (asook alles wat blink) en vlieg sterk rond (hy verkies om binne die huis te vlieg).
Hy sit ook die graagste op ons skootrekenaars.
Die Jack Russel en gemmerkat het tot dusver genadiglik besluit hulle sal nie ‘n maaltyd van al ons harde grootmaakwerk maak nie (oukei, ek moes dreig en dit het ‘n beker water of twee gekos om die blink vlam in hul oë te blus).
Maar dis nie al nie.
Kiewiet verkies om op mense se koppe te sit. Letterlik, meen ek nou.
En hy het skielik besluit manlief (wat moes help kos gee op die dae wat ek nie kon nie) is nou net die persoon met wie hy se vegtegnieke kan beoefen.
As manlief in die omtes is, begin hy bewe. Net om die volgende oomblik te storm en hom aan die duim te byt. Dit terwyl my man rustig by sy rekenaar sit en werk. Voorts behels die vegtegniek dat jy dan met die vlerke geklap moet word.
Kiewiet draai homself so mik-mik dwars en kap met sy vlerke. Hy besef seker nie hy probeer hoër vlieg as wat sy vlerke lank is nie.
Ek is nie seker of dit dalk is omdat manlief vir hom ‘n vinger gewys het of hy ‘n voëltjie hoor fluit het dat manlief – toe hulle klein seuntjies was - bosduiwe met ketties gejag en geëet het nie. Dalk is Kiewiet ‘n reïnkarnasie van een van manlief se slagoffers.
Hierdie gebeur egter net as ék in die omtrek is. Wanneer manlief alleen is, gaan sit Kiewiet ewe liefies op sy kop of skouers. So af en toe, as hy sien op wié se skouer hy sit, kry hy weer lus vir veg.
Kiewiet word toegelaat om vrylik rond te beweeg en sy blyplek is ons beskutte stoep. Hy kry kuiergaste – of dan ander duiwe wat sy kos kom eet – selfs ook ander bosduiwe.
Jakaryntjie is verward. As die ander voëls kom kuier wat soos ons s’n lyk, noem ons hulle duiwe. Maar ons s’n is ‘n kiewiet – soos die wat op die plaas op oupa se lande rondloop en die honde terg. Hulle is dan voëls van eenderse vere!
Jip, Kiewiet is inderdaad ‘n voël van ‘n anderste kleur.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie