Olywe spit ’n nuwe sooi vir akkerbou in ’n dorsland

Meer as ’n halfeeu gelede het ’n destydse administrateur van Suidwes-Afrika, mnr. Wennie du Plessis, voorspel ‘n dag gaan kom wanneer die Namibwoestyn gaan blom . . .
Des Erasmus
Des Erasmus - Die goewerneur van die Erongo-streek, mnr. Cleophas Mutjavikua, het in sy onlangse beleidstoespraak aangekondig onderhandelinge tussen ‘n waterforum van die weste en deskundiges van Israel vorder vir die bou van ‘n massiewe seewaterontsoutingsaanleg by Wlotzkasbaken. Dit gaan duisende hektaar vir besproeiing in die Namib oopstel. Die visioene het ‘n blinke gestalte begin kry in groot oes van olywe vir die allerbeste olie op twee hektaar grond aan die buitewyke van Hentiesbaai.

No 50 Extra Virgin-olyfolie het die voedselketting getref.



Deurbraak

Gys Cilliers en Stiaan Cloete stap met ‘n vindingryke verpakking van olyfolie na een van twee groot boorde op die buitewyke van Hentiesbaai asof dit is om dankie te sê. ‘n Deurbraak is gemaak met wat sowat ses jaar gelede net ‘n gedagte was.

Die mark is met tweeduisend liter No 50 Extra Virgin-olyfolie getref. Verlede jaar was daar al ‘n oes, vanjaar het die deurbraak gekom en duisende olyfbome gaan nog op die twee hektaar grond net oorkant die hoofpad op die roete na die noorde net buite Hentiesbaai geplant word.

So met die aanstap deur een van die twee groot boorde waar sowat 4 000 olyfbome reeds tak teen tak staan, word gepraat oor die verpakking, die naam, die gehalte van die produk en diversifikasie van die akkerbou op ‘n perseel waar die oes van Engelse komkommers reeds weekliks ingebring word. Die komkommerkwekery is daar in ‘n hoek in ‘n groot tonnel met nog tonnels wat gaan bykom.

Twee soorte bome

Stiaan skerts oor die presiesheid van sy skoonpa, Gys. Drupbesproeiing word toegepas uit ‘n eie boorgat op die hoewe. Die boorgatwater is baie brak, maar daaraan steur die olyfbome hulle op die oog af nie. Dit lyk selfs of die boompies met die water aard. Maar kom Gys van boompie tot boompie op twee druppels water af wat nie dieselfde is nie, moet die ogie met die triestige druppeltjie reggemaak word.

Gys vertel van die naam No 50. Dit staan vir nommer vyftig, maar onder die Hentiesbaaiers word reeds van Myl 50 Olyfolie gepraat . Myl 50 word met Hentiesbaai vereenselwig, padlangs sowat vyftig myl van Swakopmund en meer as sowat vyftig myl na die grens van die Skedelkuspark. Dis nie waarvandaan die naam kom nie. Dit kom van die twee variëteite olyfbome wat om die helfte op die perseel groei – Karoneikie (Grieks) en Arbequina (Spaans). Dit koppel Stiaan weer aan die Mediterreense klimaat van Hentiesbaai wat plek-plek ooreenstem met Midde-Oosterse toestande.

Verpakking

Die verpakking van die eindproduk is ook innoverend vir ‘n olie in die ketting van voedselbereiding. Die olyfolie self is in ‘n blink sakkie soos in ‘n wynboks. Aan die sakkie is ‘n kraantjie en dit word weer deur ‘n gleuf in ‘n silindervormige houer gedruk vir die skinkslag. Dis so amper ‘n vertoonstuk in die kombuis. Giet, Piet!

Dis nie net die Mediterreense klimaat wat ‘n rol in die koms van akkerbou na Hentiesbaai gespeel het nie. Oor die lande van die Midde-Ooste hang die afgelope jare ‘n oorlogswolk. Daaraan het die ekonomie van Turkye nie ontkom nie. Turkye was weer die belangrikste afsetgebied van die robbedryf van Namibië. Die Hentiesbaaise robverwerkingsbedryf was en is steeds op die perseel waar die olyfboorde nou floreer. Sonder sy belangrikste afsetgebied het die robvelbedryf gestagneer. Daarom moes ‘n uitwykroete gesoek word vir ‘n bedryf wat een van die vakansieoord se werkverskaffers is.

Van druiwe tot olywe

In haas elke Namibiër se bloed is daar ‘n boerdery-aar, vertel Gys. Toe word ‘n olyfboom op sy dorpserf die pilaar waarop die ganse olyfbedryf van vandag staan. Sommer ‘n sierboom by die huis waar hy en sy Ettie gebly het, die vrou wat hy in 2012 aan die dood afgestaan het. Dit was ‘n boom sommer vir die mooi, maar dié olyf het gegroei tot waar dit so hoog soos ‘n windpomp staan. Maar as ‘n draer van olywe het nie veel aangegaan nie. Die dood van Ettie het sy skoonseun, Stiaan Cloete, uit Suid-Afrika by hom laat aansluit.

Vir Stiaan was dit ook ‘n aanpassing. Hy was ‘n jong man met ‘n B.Sc-graad met wynkunde as hoofvak. In die Wes-Kaap het dit hom kniediep in die wynbedryf laat staan. Druiwe was sy rigting, maar nou ‘n moontlikheid van olywe op Hentiesbaai? Druiwe bly Stiaan steeds na aan die hart en hy tree in raadgewende hoedanigheid op vir die enkele druiweboere wat oor die ganse Namibië versprei is. As olywe dan wel hier wil groei, moet ‘n plan gemaak word. Daaraan het die groot boom op eie werf hulle elke dag met die verbystap herinner.

Werkverskaffer

‘n Volgende stap was om ‘n deskundige op die gebied van olywe in Israel te raadpleeg. Die Israeliet het sy grondontledings kom doen en op die variëteite Karoneikie en Arbequina is besluit. In 2014 is die eerste duisend olyfbome geplant en die volgende jaar nog ‘n duisend. In 2016 het nog tweeduisend bome bygekom en nou gaan nog geplant word.

Normaalweg kom die eerste oes van ‘n olyfboom ná drie tot vyf jaar. Maar toe bring Hentiesbaai se jaaroudboompies reeds ‘n oes in. Dit was 300 kg olywe en die eerste 20 liter olyfolie was daar vir die proe. In die tweede jaar van die boord was die oes reeds 4,5 ton olywe. In die derde jaar was die oes 11,5 ton en vanjaar is ‘n oes van 20 ton olywe ingebring. Die oes was ook vroeg in Mei pleks van Junie danksy die gunstige weer wat geheers het.

Uit vanjaar se oes van 20 ton olywe is 2 000 liter olyfolie bemark. Met die marktoets is ook geslaag. Een kettingwinkelgroep het met vyf No 50-olyfolie begin. Binne ‘n dag of twee was daar ‘n opvolgbestelling vir nog 30.

Waar die insinking van die robverwerkingsbedryf mense met werkloosheid bedreig het, het die olyfboerdery weer as werkverskaffer ingetree. Vandag bestaan reeds oesspanne waar plukkers aanvanklik per kilogram olywe betaal was.

Stiaan sê met sy koms na Hentiesbaai het dit hom opgeval hoe goed olyfbome in huistuine groei. Vir hom was dit ‘n taamlike groot omskakeling van die wynbou na olyfolie. Die olyfbome in die huistuine was hoofsaaklik vir groot tafel- en inmaakolywe. Die variëteite wat nou in die boord floreer, dra hoofsaaklik ‘n kleiner tipe olyf. Maar die olie-inhoud is hoog.

‘Plante soos mense’

Plante is Stiaan se lewe. Soos mense verskil, verskil ook alle plante.

“Jy moet hulle ken sodat die beste uit hulle gehaal kan word. Hulle moet deurlopend gemonitor word en aanpassings moet langs die pad gemaak word. Ook vir plante moet die regte kos die regte tye voorgesit word. Dit geld ook water. Net die regte hoeveelheid moet toegedien word. Oordadigheid werk nie.”

Volgens hom het olywe goeie en swakker oesjare. Dis ‘n siklus wat nou op Hentiesbaai aangespreek word om die swak jare uit te skakel. Daarvoor word voortdurende waarnemings, gevolg deur aanpassings in die blomseisoen gemaak.

“‘n Plant bepaal ook wat sy spyskaart moet wees. Jy mag nie net iets in die grond druk en hoop die plant vat nie.”

Monsterontledings word steeds in Kaapstad gedoen oor die gehalte van die grond. Dit bepaal weer wat geplant gaan word en wat nie. Faktore wat oorweeg word, is te veel klip of te veel klei. Water alleen is nie genoeg nie en kan selfs te veel wees. ‘n Plant soek byvoeding. Jy moet weet wanneer ‘n plant goed soos kalium, stikstof of fosfaat moet kry.

Die olyfbome van Hentiesbaai is hoofsaaklik uit die Robertson-omgewing in Wes-Kaapland ingevoer. Selfs die uit- en invoerprosesse is ingewikkeld met al die vereistes waaraan voldoen moet word.

Verwerking

Verwerking van die produk moet binne 24 uur ná die pluk van die vrugte begin. Vir olie word die olywe met pit en al fyngestamp en in ‘n pasta verwerk. ‘n Wasproses tree in om ‘n suiwer produk te kry. Selfs massering word gedoen en voorgeskrewe temperature word deurlopend gehandhaaf. Uiteindelik tree ‘n knieproses in waartydens die oliepartikels verbind. Eers daarna volg die parsproses. Die eindproduk word behoorlik getoets om bygeure uit te hou. Deel van die verwerking is om suurstof in ‘n stadium weg te hou. Nog ‘n stap is die filtrering van die olie.

Stiaan sê hy is nog lank nie klaar met gewasse in die dorsland nie. Een moontlikheid is die verskaffing van olyfboompies namate die bedryf uitbrei. Tussen 700 en 1 000 Engelse komkommers per week word reeds uit die tonnel gelewer en proewe word met grenadellas, perskes, pruime, appels, vye en granate gedoen.

Die woestyn gaan blom.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer