Olimpiese ster getuig oor FBI se brouwerk

Gimnastiek
Die Olimpiese kampioen Simone Biles is een van verskeie gevierde gimnaste wat vandeesweek in die Amerikaanse senaat sal getuig oor die FBI se brouwerk in sy ondersoek van die veroordeelde Larry Nassar.
Nassar, ’n voormalige Amerikaanse gimnastiekafrigter, is in 2018 tot 300 jaar tronkstraf gevonnis. Hy is daaraan skuldig bevind dat hy meer as 250 gimnaste seksueel mishandel het.
McKayla Maroney, Maggie Nichols en Aly Raisman tel onder die ander gevierde gimnaste wat saam met Biles voor die senaat se spesiale paneel sal verskyn.
Al vier vroue tel onder die honderde van Nassar se slagoffers wat deur hom betas is gedurende wat hy beweer het roetine mediese ondersoeke was.
Woensdag se verhoor volg nadat Michael Horowitz, die inspekteur-generaal van die departement van justisie, in Julie ’n fel verslag van 119 bladsye gepubliseer het waarin hy sê die FBI-kantoor in Indianapolis “het versuim om gehoor te gee aan aantygings teen Nassar met die erns en dringendheid wat dit geregverdig en benodig het”.
Die ondersoek het in 2015 begin en verskeie blapse is begaan, onder meer dat vyf weke verloop het voordat een van die slagoffers ondervra is. Sommige van die slagoffers is glad nie ondervra nie.
Volgens die verslag het die verskeie blapse toegelaat dat die mishandeling vir maande lank voortgaan.
Horowitz en Chris Wray, die direkteur van die FBI, sal na verwagting ook Woensdag getuig.
– Netwerk24, Reuters

FOTO
Simone Biles het by die Olimpiese Spele steeds gesukkel met die uitwerking van die Larry Nasser-gemors. Foto Getty Images

Larry Nassar in 2018 in die hof. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer