‘Olá a partir de Lisboa’
Ronelle Rademeyer - Dit is ná sesuur in die aand, maar die son sit nog op drie-uur Namibiese tyd. Ek het 'n uur voor my program hervat en soos dit is wanneer 'n mens iets beleef wat te groot is om alleen in te neem, voel dit my lyf is te klein vir alles waaraan my sintuie die afgelope twee dae blootgestel is. Vandaar my skrywe.
Ek het Lissabon vier jaar gelede vir die eerste keer beleef en my hart verloor op die stad van die seevaarders, van skrywers soos Fernando de Pessoa, die Nobelpryswenner José Saramago en natuurlik die digter Luis de Camoes van die befaamde epiese Os Lusiades (met Vasco de Gama aan die woord oor die Portugese geskiedenis en die ontdekking van nuwe wêrelde).
Dit is miskien juis omdat en vanweë die seevaarders en hul ontdekkersgees dat ek my hier so tuis voel. Dias het immers sy kruise in die 1400's langs onse eie kuslyn geplant. 'n Besoek aan Lissabon gee 'n mens die energie om self weer verkennend te leef; uit te vaar en jou eie kruise te plant.
Ek het op pad hierheen 'n dag in Frankfurt deurgebring en kon nie anders as om later te dink dat as ek die verskil tussen Frankfurt en Lissabon as twee uiteenlopende vroue moet beskryf, my beskrywing die volgende sal wees nie:
Me. Frankfurt is blond, mooi, suksesvol, ge-nip en ge-tuck tot plooilose perfeksie, maar koel en afsydig. Sy is 'n bankier, natuurlik. Verdien baie geld, is berese, belese en gekultiveerd.
Me. Lissabon, daarenteen, het donker hare, 'n soel vel en oë so swart soos olywe. Sy is nie so elegant soos me. Frankfurt nie, maar sy straal 'n warmte uit wat oorrompelend is. Jy voel 'n oombliklike “amizade” (vriendskap). Op haar dag was sy beeldskoon. Haar familie het geld gehad - baie; eens op 'n tyd. Maar die ekonomiese krisis en die EU se besuinigingsmaatreëls het sy tol geëis. Haar huise kort verf, die “azulejo's” (teëlkuns) teen die mure het plek-plek al afgeval. Maar saans, wanneer die Lissabonners na die Bairo Alto gaan om haar die fado te hoor sing, gaan staan die wêreld stil. Die ekstremiste laat vaar vir 'n oomblik hul haatstryd, die geldmarkte markeer die pas en een en almal ervaar opeens 'n diep hunkering na die liefde. Dít is Lissabon.
Met my vorige besoek het ek die Book of Disquiet van Pessoa ontdek. Dié keer het ek Saramago se Blindness vir my gekoop. En lees dan tog net hier: " You never know beforehand what people are capable of, you have to wait, give it time. It is time that rules, time is our gambling partner on the other side of the table and it holds all the cards of the deck in his hand. We have to guess the winning cards of life; our lives."
Die mense hier kry swaar. 'n Mens sien die armoede oral waar jy gaan. Die strate wemel van musikante en ander kunstenaars wat met hulle musiek en pensketse of azulojo's 'n euro of twee probeer verdien. Vitor is byvoorbeeld 'n sielkundige, maar mense kan nie meer 'n luukse soos terapie bekostig nie. Daarom verhuur Vitor, die eienaar van die B&B waar ek tuisgaan, en sy lewensmaat, Miguel, twee kamers in hulle “apartomento”. Miguel is 'n astroloog wat vir mense (natuurlik uit ander Europese lande) telefonies sê wat lê vir hulle in die sterre opgeteken. En dié twee, synde baie esoteries, glo vas ek is oor hul pad gestuur met 'n doel, pure sinchronisiteit. En toe hy uitvind ek lees Pessoa en Saramago en besit CD's van Amalia Rodriques, was hy totaal verstom. Ewenwel, môre is dit Ierland toe vir werk, die eintlike rede vir my EU-besoek.
Die lewe is goed.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie