Okahandja se Axali Doeseb ontvang groot NAMA'S-toekenning

Elvira Hattingh
Namibië se eerste swart dirigent van die nasionale simfonie-orkes ná onafhanklikheid en skrywer van die Namibiese volkslied Namibia Land of the Brave sal vanjaar ‘n leeftyd prestasietoekenning by die Namibiese Jaarlikse Musiektoekennings (NAMA’s) ontvang.
“Axali Doeseb se florerende loopbaan en diep wortels in kontemporêre, moderne, fusion en tradisionele musiek is nog nie geëwenaar nie, sy merk in kuns en invloed is duidelik in bykans alle musiekgenres in ons land,” het die NAMA-komitee se voorsitter, Tim Ekandjo, gesê.
Doeseb is op Okahandja gebore en het met musiek in aanraking gekom toe hy klavierlesse vir die eerste keer by Hoërskool Martin Luther in Okombahe geneem het. Hy tel onder die graduandi van die Hochshule vir Musiek by Herfort in Wesfale, Duitsland, en die Marlborough Universiteit in die Verenigde Koninkryk. Hy het ook die liturgie vir die Evangeliese Lutherse Kerk vir Namibië komponeer.
Hy het Namibië as voorsitter verteenwoordig van die komitee wat die AU volkslied in Addis Abeba,Ethiopië, moes komponeer. Hy was ook betrokke by die paneel wat die SADC-volkslied moes komponeer en is die medestigter van die Ugly Creatures musiekgroep wat reeds voor onafhanklikheid pop, soul en gospelmusiek maak.
Ugly Creatures het reeds in 1970 ontstaan toe musiekmal seuns saamgespan het. Die groep het in 1981 opgebreek as gevolg van regeringsinmenging, maar het weer in 2007 opnuut begin musiek maak. Doeseb het ook verskeie skole regoor die land met skoolliedere gehelp.
Sy uitgebreide musiekkennis en ervaring het daartoe gelei dat hy die eerste swart musikant geraak het wat die NBC Musiekmakerskompetisie beman het, voor dit die NAMA’s geraak het. Hy het ook reeds musiek vir plaaslike kunstenaars soos Ras Sheehama, Jackson Kaujeua, Eric Mundjua, Sharon Van Rooi en Pieter Josef !Auxab geskryf.
“Ná so baie jare van onafhanklikheid, weet verskeie jongmense nog steeds nie wie ons volkslied geskryf het nie, om die rede wil ons vir al sy musikale bydraes erken en veral vir die lied wat alle Namibiërs verenig,” het Ekandjo gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-12-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer