Oefenbane gou oop vir atlete
Oefenbane gou oop vir atlete

Oefenbane gou oop vir atlete

Die hervatting van die kompeterende seisoen is vir September geoormerk.
NAMPA
Erwin Naimhwaka, die president van Atletiek Namibië (AN), sê die beheerliggaam werk hard daaraan om te verseker dat kompeterende atletiek teen September vanjaar 'n terugkeer maak.

Atletiek Namibië het drie van sy vier Grand Prix-byeenkomste vir die jaar aangebied, voordat die nasionale noodtoestand op 16 Maart weens Covid-19 afgekondig is. Alle oorblywende atletiekgeleenthede vir die res van die jaar is gevolglik gekanselleer.

Naimhwaka het aan die nuusagentskap gesê ondanks die uitdagings het AN sy kalender aangepas om die seisoen tot in 2021 te laat strek.

“Wat ons gedoen het, is om atlete genoeg tyd toe te laat om te oefen, veral diegene in baan- en veldatletiek.

“Ons mikpunt is om atletiek teen September te laat hervat en om die hersiende kalender binnekort met ons lede te deel,” het hy gesê.

Naimhwaka het bygevoeg dat die beheerliggaam met die Namibiese Sportkommissie in gesprek is dat ontsmetting by al die sport­venues onder staatsbeheer gedoen word.

Volgens hom behoort die oefenveld vanaf die komende week gereed vir die terugkoms van atlete te wees.

Die AN-president sê as 'n federasie bly hul strewe om vir atlete die geleenthede te bied om vir die groot wêreldbyeenkomste te kwalifiseer.

“Met die beskikbaarheid van ons hulpbronne in ag geneem, wil ons fasiliteer dat ons atlete vir die Olimpiese Spele (in Julie volgende jaar) kwalifiseer.”– Nampa

Kommentaar

Republikein 2026-07-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer