O.19's na Rwanda vir WB-uitdun
O.19's na Rwanda vir WB-uitdun

O.19's na Rwanda vir WB-uitdun

Krieket
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Namibië se nasionale o.19-krieketspan het gister na Rwanda vertrek waar hy van Donderdag af in Kigali amptelik sy kwalifiseringsveldtog vir die 2022 o.19-Wêreldbeker van stapel stuur.

Tanzanië, Uganda, Namibië, Nigerië en die gasheerspan sal elkeen een keer op 'n rondomtaliegrondslag teen mekaar te staan kom.

Net die wenspan sal saam met Ierland, Kanada, Papoea-Nieu-Guinee en die Verenigde Arabiese Emirate as kontinentale kwalifiseerder tot dié gesogte 50-beurtkampioenskap in Wes-Indië deurdring.

Afghanistan, Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Suid-Afrika, Sri Lanka, Wes-Indië en Zimbabe is die elf toplande wat regstreeks van die laaste kampioenskap gekwalifiseer het.

Bangladesj, die verdedigende kampioen van 2020, het in 'n reënerige finaal in Potchefstroom vir Indië met drie paaltjies volgens die Duckworth-Lewis-Sternmetode geklop.

Indië het 177 almal uit (3.54 per boulbeurt) in hul toegelate 50 boulbeurte opgestel. Bangladesj was ná 42.1 bb op 170/7 ten volle in beheer toe die hemel se sluise oopgegaan het.

Die spankaptein, Jack Parker, het gister gesê: “Ek dink ons het 'n baie sterk groep en ek dink ons het die selfvertroue om te kwalifiseer. Natuurlik moet ons dit geniet en pret hê as ons speel, maar wil graag terselfdertyd al ons wedstryde wen. Die botsing teen Nigerië is van groot belang, want ons moet wraak teen hulle neem (nadat hulle Namibië in 2019 in Windhoek uitgeskakel het.”

Die senior Eagles het gister uit Dubai 'n videoboodskap aan die o.19's gestuur. “Julle ouens het hard gewerk. Onthou wat julle moes doen om tot hier te kom en gebruik elke geleentheid. Moenie die basiese beginsels van krieket afskeep nie. Neem paaltjies en slaan groot sesse. Julle is 'n talentvolle span met uitstekende tegniek.

“Daar sal druk wees, maar ons weet Jack sal saam met die ander leiers in die span dinge vasvat en die knoop deurhaak. Geniet elke oomblik en onthou ons staan agter julle.

“Alle voorspoed uit Dubai, ons sal jul vordering dophou,” was die Eagles se wense.

Namibië se wedstrydprogram

1 Donderdag 09:30, teen Uganda.

2 Vrydag 09:30, teen Tanzanië.

3 Maandag 09:30, teen Rwanda.

4 Woensdag 09:30, teen Nigerië.

Die junior Eagles-span: Jack Parker (kaptein), JC Balt, Renier Bosman, Lu-Hendro de Waal, Dylan Leicher, William Lottering, Ryan Moffet, Louis Peters, Jan-Hendrik Potgieter, Dirkie Theunissen, Gerhard Janse van Rensburg (paaltjiewagter), JW Visagie (paaltjiewagter), Alexander Volschenk, Ramon Wilmot.

Die hoofafrigter is Fortune Matawu en Justice Hangula is hulpafrigter.

FOTO
Die Namibiese o.19’s gister met hul vertrek uit Windhoek. Agter van links staan Justus Hangula (hulpafrigter), Louis Peters, Jan-Hendrik Potgieter, Renier Bosman, Jack Parker (kaptein), Dirkie Theunissen, Dylan Leicher, JC Balt en Ramon Wilmot. Voor is Lu-Hendro de Waal, Ryan Moffet, Gerhard Janse van Rensburg, Fortune Matawu (hoofafrigter), JW Visagie, Alex Volschenk en William Lottering. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer