O.19-rugby het geen tekort aan gesprekspunte

Twee spogskole moes die naweek begin vure dood­slaan ná 'n insident voor hul eerste rugbyspanne se wedstryd.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - 'n Indrukwekkende oorwinning deur Windhoek Gimnasium se eerste rugbyspan Vrydagaand teen Samsung Windhoek Hoërskool is deur twee omstrede voorvalle voor die afskop oorskadu.

Die Leeus in rooi is klaarblyklik weer sterk geplaas vir 'n aanslag op die 2019-seisoen, as Vrydagaand se sege met 35-10 teen die WHS Koedoebulle 'n aanduiding is.

Gemeet aan toeskouergetalle was dié botsing ongetwyfeld die hoogtepunt van die vierdaagse Hennie de Waal sportfees by HTS.

Gimnasium het die wedstryd met vyf drieë teen twee oorheers en was rustyd reeds met 14-5 voor. Voorlangs en agterlangs lyk die Leeus goed afgerig, met slagtande waarvan hul opposisie maar kan kennis neem.

Gimmies se skrumskakel Jahno du Plessis het die eerste slag geslaan toe hy ná vyf minute 'n lynstaanbal ontvang en soos blits deur 'n gaping is om sy pad pale toe te vind.

WHS het onmiddellik die afskop teruggewen en een fase later het losskakel Geraldo Beukes met 'n fopaangee deurgesny om die naelloop na die linkerhoekie te wen. Sy doelskop was egter mis (7-5).

WHS het vir lang tye in die wedstryd goed georganiseerd op die verdediging gebly, maar het in die lynstane klei getrap totdat hulle later die gooier in hul lynstane verander het.

Ná elf minute het Gimmies weer gaan druk. Doeltreffende fase-spel het ekstra spelers aan die regterkant geskep en 'n koelkop binne-aangee het die drie vir linkervleuel Dian de Klerk moontlik gemaak.

Binnesenter Samuel Poulton se tweede doelskop het sy span rustyd met nege punte voor geplaas. Poulton sou die wedstryd eindelik met vyf uit vyf doelskoppe afsluit.

Gimnasium se driedrukkers in die tweede helfte was regtervleuel Keanan Januarie, die kaptein Michael Thuynsma asook sy slotmaat Jaun-Louis Zaayman.

Januarie se drie het van 'n skrum in Gimnasium se eie helfte begin, van waar met 'n netjiese agterlynbeweging na links aangeval is.

WHS kon net met nog een laat, onverdoelde drie deur die plaasvervanger-voorspeler Forche Windstaan antwoord.

Gimnasium se afrigter Jaco Engels was agterna tevrede met die afloop van die eerste ware toets vir sy manne.

“Die telbord vertel nie die volle verhaal nie. Die wedstryd was omtrent kliphard ... 'n mini-oorlog. Die seuns aan beide kante het die wedstryd die volgende oggend aan hul lywe gevoel,” het Engels agterna gesê.



BLASERS IN SPERVUUR

Die afskop van WHS teen Gimnasium is vooraf met bykans 'n halfuur vertraag.

Die probleem het tydens die voorafgaande wedstryd tussen die gasheerskool HTS en Dr. Lemmer van Rehoboth ontstaan. Ongetwyfeld een van die land se mees bekwame skeidsregters, Stephan Kellerman, was in beheer.

Beledigings van die kantlyn af het Kellerman egter genoop om die wedstryd te beëindig met meer as tien minute speeltyd nog oor. Klaarblyklik het die luidkeelse kritiek van een van HTS se afrigters, mnr. Robert Bezuidenhout, die grootste rol hierin gespeel.

Die nadraai was dat geen skeidsregter hulle toe be­skikbaar wou stel om WHS teen Gimnasium te hanteer nie. Dit het omtrent 'n halfuur geduur voordat Zaid Isaacs en twee grensregters oorreed is.

Die voorsitter van die Namibiese Skeidsregtersvereniging, mnr. Williams Steenkamp, het agterna aan Republikein gesê: “Stephan het baie ervaring op 'n hoë vlak en het lankal verby die punt gevorder waar hy deur kritiek van die kantlyn af beïnvloed word.

“Stephan het egter besluit om standpunt in te neem teen die intimidasie, omdat daar 18- en 19-jarige outjies deel van dié toernooi is wat nou as skeidsregters begin.

“Tipies neem dit maklik vier tot vyf jaar voordat 'n beginnerskeidsregter werklik sy voete vind. As sulke jong blasers nie spasie gegun word om uit hul foute te leer nie, kan die venynige kritiek hulle vir altyd wegjaag.

“Ons sit reeds met 'n krisis om skeidsregters te werf en te behou. Laas week moes ek 'n kursus vir skeidsregters aangebied het waarvan die klubs en skole ingelig was, maar nie 'n enkele siel het opgedaag nie.”

Volgens Steenkamp, wat ook waarnemende uitvoerende hoof van die Namibië Rugby-unie is, het hy ver­skeie klagtes oor Bezuidenhout se optrede deur die loop van die naweek ontvang. Sommige klagte hou ook met Bezuidenhout se eie vertonings as skeidsregter verband.

Republikein se man op die toneel het by die veld opgedaag oomblikke nadat die wedstryd tussen HTS en Dr. Lemmer voortydig beëindig is.

Bezuidenhout het toe so in die verbygaan opgemerk: “Skryf in die koerant: Ons skeidsregters is belaglik.”


MASKOT BYGEKOM

Loshande die grootste sensasie van die sportfees het ook uit die rugbywedstryd tussen Gimnasium en WHS gespruit.

Teen gistermiddag op Facebook alleen, was die video van agt sekondes reeds meer as 300 keer gedeel en meer as 20 000 keer gekyk, waar die rugbyspeler Ethan Thiart in die skoolbaadjie van Windhoek Gimnasium afhaak en die koedoe-maskot van WHS bykom.

Dit was voor die afskop, terwyl die maskot vooraan die WHS-rugbyspan uitgehardloop het deur die tradisionele tonneltjie wat leerders van beide skole gevorm het.

Thiart, wat die wedstryd vanweë 'n ligte besering misgeloop het, is in die Namibiese o.20-oefengroep wat volgende maand 'n belangrike Afrika-toernooi in Kenia gaan speel. Die bul van meer as 120 kg sal onder normale omstandighede 'n vanselfsprekende insluiting as loskopstut wees.

Thiart se optrede is wyd veroordeel en sy skool Windhoek Gimnasium het die kritiek allermins vrygespring.

WHS se afrigter, Henry Kemp, het aan Republikein gesê die seun wat as die Koedoebulle se gelukbringer uitgedraf het, is geensins beseer nie en het net geskrik vanweë die onverwagsheid. Thiart se swaaiende opstopper het die masker onder die kakebeen getref, maar het nie met die seun kontak gemaak nie.

WHS gebruik in die meeste gevalle 'n skoolmeisie as sy rugbymaskot.

Gimnasium se afrigter, Jaco Engels, hou vol dat daar geen kwaadwilligheid aan Thiart se kant was nie, maar dat dit deel van die tradisionele oor en weer gekskeerdery en spelery tussen die skole se gelukbringers en dirigente is.

Kemp en Engels was dit eens dat die twee skole 'n baie noue verhouding van samewerking het. Daar was sprake dat die twee skole in 'n gesamentlike verklaring hul standpunt oor die voorval sou weergee, maar teen druktyd gister is niks amptelik ontvang nie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer