O.19-liga kon vanjaar meer spanne gehad het

Toernooie, eerder as ’n liga, is een van die moontlike scenario’s.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Administrateurs van Namibiese hoërskolerugby bly hoopvol dat hulle moontlik nog ’n deeltjie van die 2020-seisoen sal kan red wat grootliks deur Covid-19 gekelder is.

Ironies genoeg was daar vanjaar voor die uitbreek van die pandemie belangstelling van ’n groter getal skole om in die Momentum-ouderdomsligas in te skryf, sê mnr. Abie van Wyk, voorsitter van die Namibiese Hoërskolerugbyvereniging (NASSRA).

Dié toename sou inderdaad ’n positiewe ommekeer verteenwoordig het in teenstelling van die geleidelike afwaartse kurwe van minder skole, minder spanne en minder spelers wat in onlangse jare sedert 2012 ondervind is.

“Dr. Lemmer van Rehoboth asook HTS Windhoek het aangedui dat hulle vanjaar hul eerste spanne vir ’n terugkeer tot die Momentum o.19 premierliga wou inskryf. Hul byvoeging sou die getal spanne dan tot elf opgestoot het – tesame met Windhoek Affies (kampioene in 2019 en 2018), Windhoek Gimnasium, Windhoek Hoërskool, Moria (Outjo), Tsumeb Gimnasium, Edugate, Walvisbaai Privaat Hoërskool, De Duine en Elnatan (Stampriet).”

Gedurende die huidige vlak 3 van die nasionale maatreëls teen die verspreiding van die virus word sportspanne toegelaat om met handhawing van sosiale afstand vir oefensessies te begin bymekaar kom. Vir ’n kontaksport soos rugby sal dit meebring dat spelers saam fiksheidswerk mag doen, maar “geen toerusting mag gedeel” word nie, met ander woorde rugbyballe is uit.

“Vlak 4 wat veronderstel is om die nuwe normaal te wees, se begindatum en die besonderhede daarvan is nog nie uitgespel nie,” sê Van Wyk.

NASSRA is hoopvol dat rugbyspanne dalk gedurende die tweede helfte van Julie weer tot aksie mag terugkeer. Indien die oorblywende tydperiode vir die jaar dit nie toelaat om ’n volledige of verkorte liga af te handel nie, beoog die administrateurs om vir spanne minstens drie of vier toernooie voor die jaareinde as ’n troosprys te organiseer.

Van Wyk sê hy hoop dat die Namibiese Sportkommissie binne die komende dae meer besonderhede oor die moets en moenies van sportbyeenkomste sal aankondig.

Kommentaar

Republikein 2026-08-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer