NWU-Pukke het 'n sterk Namibiese geur
NWU-Pukke het 'n sterk Namibiese geur

NWU-Pukke het 'n sterk Namibiese geur

Rugby
Die Namibiese Wêreldbeker-haker Louis van der Westhuizen is aangewys om vanjaar die NWU-Pukke se Varsitybekerspan se leisels as kaptein oor te neem, met die skrumskakel Chriswill September as sy adjudant.

Van der Westhuizen, ook bekend op die bynaam “Chukkie”, het sy land by die 2015 Wêreldbekertoernooi in Engeland verteenwoordig en is 'n redelike seker keuse om vanjaar weer vir die Wêreldbeker in Japan gekies te word.

Hy en September is albei ervare provinsiale spelers wat gesamentlik al meer as 80 keer vir die Luiperds gespeel het.

Die Pukke se kaptein verlede jaar was die flank Tiaan Bezuidenhout, wat egter intussen sy onderwysstudies voltooi het. In die 2018 Varsitybeker het die NWU-span ses uit agt wedstryde gewen om tweede op die puntelys te eindig. Die onoorwonne Maties het hulle egter in die eindstryd op Stellenbosch met 40-7 oordonder.

Die gewese UJ-kaptein en ook 'n Namibiese toetsspeler, die flank Wian Conradie, sal dié seisoen in Puk-kleure aantree.

Conradie, wat ook die 2015 Wêreldbeker agter sy naam het, behoort 'n groot aanwins vir die span van Potchefstroom te wees.

Met die jong senter/vleuel Justin Newman, slot Johan Retief en stut Nelius Theron wat ook almal verlede jaar vir beide die Pukke en toetsrugby vir Namibië gespeel het, word uitgesien na nog 'n wedersyds voordelige verstandhouding tussen dié twee unies.

Ontluikende Namibiese spelers insluitend die heelagter André van der Berg (voorheen WHS en Namibië o.21) en die stut Jurgen-Leigh Human (WAP 2018) is ook vanjaar aan Pukke verbonde.

Die senter Johan Deysel, Namibiese rugbykaptein tydens verlede jaar se dominerende opmars na die Rugby Afrika Goue Beker, het tevore ook lank vir die Pukke en die Luiperds gespeel.

Die Pukke skop hul veldtog die eerste Maandag in Februarie in Johannesburg teen hul aartsvyand, die Universiteit van Johannesburg (UJ), af. Dieselfde aand speel Maties teen Wits, Tuks teen CUT Ixias, en UCT Ikey Tigers teen die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK).

– Bygewerk van Suparugby

Kommentaar

Republikein 2025-06-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer