NWR-werker sterf nie aan Covid-19
NWR-werker sterf nie aan Covid-19

NWR-werker sterf nie aan Covid-19

Francoise Steynberg
Die 34-jarige werker van Namibia Wildlife Resorts (NWR) se Hardap-oord, mnr. Lilungwe Brighton Tembwe, het nie Vrydag op Mariental weens Covid-19 gesterf nie.


"Die sterfte is nie Covid-19-verwant nie," het die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste, me. Esther Muinjangue vanoggend by die Covid-19-kommunikasiesentrum in die hoofstad bevestig.

“Op 12 Mei het die pasient ’n private doktor gaan sien oor hoes, borspyne en asemtekort-simptome. Hy is dieselfde dag vir longontsteking opgeneem, monsters is geneem en hy is vir behandeling in ’n isoleeringskamer aangehou. Op 13 Mei is die monsters na die die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP) vir toetse gestuur, maar die oorspronklike monsters was nie voldoende nie en ’n tweede stel is op 14 Mei getoets," het sy gesê.

"Die pasiënt het reeds chroniese gesondheidsuitdagings ervaar en hy is Vrydag oorlede. Die toetsuitslae het gister gekom en wys negatief vir Covid-19,” het die adjunkminister beklemtoon.

"NWR beklemtoon dat die eerste groep wat in kwarantyn by Hardap vanaf 25 Maart tot 9 April was, almal sonder enige simptome van Covid-19 was," lui 'n mediaverklaring wat NWR vanoggend uitgereik het.

“Mnr. Tembwe was een van ons vriendelikste en mees toegewyde werkers en hy was altyd gereed om te help. As 'n maatskappy het ons een van ons waardevolste personeellede verloor. Ons innige simpatie aan sy familie en vriende. Brighton, soos hy bekend was, sal baie gemis word," het die waarnemende besturende direkteur van NWR, dr. Matthias Ngwangwama, gesê.

“Voor sy dood het mnr. Tembwe sy wens utigespreek om voort te gaan om ons kliënte tot die beste van sy vermoeë te bedien - nadat hy dit vir elf jaar uitstekend gedoen het,” het die bestuurder van die Hardap-oord, mnr. Sunday Nelenge, gesê.

Foto NWR se Hardap-oord

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer