Nuwe toerusting vir leersentrum

Die Duitse ambassade in Windhoek het ‘n terapiekamer in ‘n ondersteuningsentrum vir kinders met gestremdhede in Suiderhof (CIDS) in die hoofstad met nuwe toerusting toegerus.

Die sentrum het finansiële ondersteuning van N$115 1885 uit die ambassade se fonds vir mikroprojekte ontvang. Danksy dié ondersteuning kon die terapiekamer met spesiale toerusting en sagte vloerbedekking toegerus word.

Die terapiekamer, waar die kinders deur middel van terapeutiese oefening hul spiere ontwikkel en hul beweeglikheid verbeter, word daagliks gebruik.

Die sagte vloerbedekking verminder die risiko van beserings.

Een van die sentrum se suksesverhale is ‘n seun wat ‘n rolstoel gebruik het en danksy daaglikse oefening nou op sy eie kan staan en sy bene kan beweeg.

Terapeutiese speelgoed vir die kinders sluit medisyneballe en swaaie in.

‘n Interaktiewe slimbord is ook geïnstalleer wat kinders met beperkte motoriese vaardighede help om te leer. Veral kinders met serebrale verlamming en disleksie baat by die bord.

Die toerusting is amptelik deur die adjunkhoof van sending, me. Ellen Gölz, oorhandig.

Kommentaar

Republikein 2025-08-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer