Nuwe seisoen, nuwe uitdaging vir Blitsbokke
Sewesrugby
Leighton Koopman
Die Springbok-sewesspan het weer 'n kopdokter ingespan om hulle in die komende sewesseisoen op koers te hou.
Dít is in hul poging om Wêreldrugby se sewestitel vir die tweede agtereenvolgende jaar te wen.
Of hierdie plan vrugte sal afwerp, sal gesien kan word met die Doebai-sewestoernooi wat Vrydag in die Verenigde Arabiese Emirate begin. Die Blitsbokke tree nie net as die wêreldkampioen aan nie, maar ook as die Doebai-kampioen. Dit plaas dubbele druk op die span.
Hulle het verlede seisoen se droomjaar op skouspelagtige wyse in die Woestynstad gewen. Dit was die begin van hul sukses in die sewesreeks.
Neil Powell, afrigter van die Blitse, het 'n volsterkte span vir die eerste toernooi aangewys.
Met groepwedstryde teen Uganda, Kenia en Kanada wat op hulle wag, is daar 'n kans dat die span vroegdag al vir die kwarteindronde van die toernooi kan kwalifiseer.
Maar Powell het gewaarsku daar moet eers gehokaai word met dié voorspellings. “Ons kan beslis nie dink dat ons op verlede seisoen se momentum sal kan voortgaan nie. Daar moet 'n nuwe beurt gebou word en dit begin in daai eerste wedstryd teen Uganda,” het Powell gesê.
Suid-Afrika was sowat sewe jaar gelede in dieselfde posisie toe die span in die 2008-'09 sewesseisoen sukses gesmaak het, maar toe nie die mas kon opkom in die volgende seisoen om hul titel suksesvol te verdedig nie.
Hulle het toe oor 'n goeie span met 'n klomp ervare spelers beskik en steeds die titel verloor.
Die doelwit is om hierdie seisoen so iets te voorkom en daarom is die sportsielkundige ingespan.
“Oor die afgelope drie weke het ons hard gewerk om die ouens se voete weer op die grond te kry; om daai honger om suksesvol te wees weer te laat posvat. Die enigste manier hoe dit egter reggekry gaan word, is om hard te werk.
“Ons het 'n gesegde waar ons drie dinge – hunger, humility en hard work – bymekaargooi. As ons daardie drie dinge kan vervolmaak voordat ons Vrydag op die veld draf, dan hoop en glo ek dit sal goed gaan.”
Hy het ook sy span gewaarsku om nie te dink ander spanne gaan ietwat swakker wees omdat hulle verskeie staatmakers verloor het, terwyl die Blitse met 'n volsterkte span spog nie.
“As jy begin dink dat jy baie beter is as die ander spanne, dan betree jy 'n gevaarlike plek.
“As jy nie jou beste vertoning lewer nie, gaan jy jouself in die moeilikheid bevind.”
Philip Snyman, kaptein van die Blitsbokke, sê die span fokus nie op die resultate nie, maar op hul hoë standaard en hoe hulle speel.
• Vrydag se wedstryde, SA tyd: Suid-Afrika tn Uganda (08:52); Suid-Afrika tn Kenia (12:36); Suid-Afrika tn Kanada (17:53). - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie