u2018Nuwe normaalu2019 skop af
u2018Nuwe normaalu2019 skop af

‘Nuwe normaal’ skop af

Pres. Hage Geingob se aankondiging gistermiddag dat die ses maande lange noodtoestand nie verleng sal word nie, is gistermiddag versigtig optimisties ontvang.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die “nuwe normaal” – ook bekend as fase 5 – het om middernag in Namibië afgeskop.

Dié aankondiging gistermiddag by Staatshuis deur pres. Hage Geingob is versigtig optimisties verwelkom.

Mnr. McHenry Venaani, die leier van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), het gistermiddag gesê: “Ons waardeer die regering dat hulle na ons pleidooi geluister het om die noodtoestand te beëindig. Ons doen ’n beroep op inwoners om waaksaam te bly en aan te hou om gehoor te gee aan die beperkings van Covid.”

Die opposisieleier sê Namibiërs moet hulle nou tot die herstel van die land se ekonomie verbind. “Ons moet alles doen wat ons kan om die ekonomie te herstel en na ’n regverdiger Namibië te werk.”

Volgens die minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, sal die wêreld se voortgesette hantering van die pandemie bepaal hoe lank dit vir Namibië se ekonomie sal neem om uit die as te herrys.

‘DAPPER SKUIF’

Mnr. Graham Hopwood, die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), sê: “In die algemeen dink ek dit is ’n dapper skuif, maar belaai met sekere risiko’s. Dit berus nou by die Namibiese publiek om verantwoordelikheid te aanvaar en regtig te verseker die verspreiding van die virus word gestop.

“Indien ons as die publiek dít nie doen nie, voorsien ek ’n situasie waar gevalle weer toeneem en ’n noodtoestand weer ingestel sal word.”

Pres. Geingob het gister juis gesê die regering sal die situasie onder fase 5 vir twee weke monitor en dan opnuut oor die weg vorentoe te besin.

Hopwood het gister kommer uitgespreek oor die grondwetlikheid van sekere aspekte van die Openbare- en Omgewingsgesondheidswet wat die regering voortaan sal gebruik om steeds Namibiërs se gedrag te reguleer. Maar, sê hy, ’n regskenner sal daarna moet kyk.

Onder dié wet kan die minister van gesondheid en maatskaplike dienste regulasies maak waarvolgens mense steeds verplig sal wees om in die openbaar ’n masker te dra en die aantal mense by ’n openbare saamtrek sal steeds beperk word, het me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, gesê.

Die aandklokreël en beperkte areas – wat tot gister vir Windhoek, Rehoboth en Okahandja gegeld het – val weg onder fase 5.

Mits daar aan gesondheidsvereistes voldoen word, mag kontaksport ook hervat.

Die perk op die aantal mense in ’n voertuig geld egter steeds.

Geingob het gistermiddag gesê hy het die afgelope ses maande as “baie opvoedkundig” ervaar. “Hierdie pandemie het ons geleer ons is almal kwesbaar. Dit het almal van ons, die hele wêreld, baie nederig gemaak,” het hy gesê.

Hy het terselfdertyd ’n beroep op Namibiërs gedoen om nie op te tree asof die coronavirus verdwyn het nie. “Die siekte is nog met ons. Ons ontspan net ’n bietjie – stadig maar seker. Ons mense se gesondheid bly ons hoofoorweging.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer