Nuwe jaar se see lu00ea blink kant bo
Nuwe jaar se see lu00ea blink kant bo

Nuwe jaar se see lê blink kant bo

Des Erasmus
Des Erasmus - Die gewilde seegebied tussen Pelikaanpunt en Sandvishawe is sedert Maandag doodstil nadat die verbod op kabeljouvangste Sondag in werking getree het.

Tot 31 Maart mag kabeljou nie in dié betrokke gebied gevang word nie. Die verbod is ingestel om die kabeljoubron tydens die jaarlikse tog na die broeivelde van Sandvishawe suid van Walvisbaai te beskerm.

Die see self het met die wisseling van die jaar saamgespeel en sedert Sondag is dit blink kant bo. Die skoon water het van Walvisbaai noord tot by Myl 108 gestrek met visvangste wat taamlik skerp gedaal het.

Elwe, normaalweg 'n skaars hengelvissoort langs die Namibiese kus, was wel sedert Sondag taamlik volop in die blink water. Net noord van Myl 14 het hengelaars Sondag en gister skaflike elfvangste behaal.

Myl 68 het Sondag en gister 'n paar kabeljoue opgelewer.

Ook by Myl 108 was daar die naweek kabeljouvangste, maar nie naastenby soos met die begin van die jaarlikse kabeljoutog by Horingbaai nie. By Myl 108 het kabeljoue van tot 5 kg in die visskottels beland.

Verkeersvloei het ook gisteroggend daarop gedui dat die groot vakansieseisoen verby is. Gistermiddag (Maandag) tussen 12:00 en 13:00 het vakansiegangers teen 'n tempo van 920 voertuie per uur deur die padblokkade net buite Swakopmund binneland toe beweeg. Die telling van voertuie uit die binneland na Swakopmund was toe 184 voertuie per uur.

Kommentaar

Republikein 2025-12-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer