Nuwe jaar se broekskeur land met
Nuwe jaar se broekskeur land met

Nuwe jaar se broekskeur land met

Karin Eloff
Uit die States kom 'n Januarie-storie.

Toe die ou, sê maar Jors, in die middel van die nag wakker skrik, staan vier gewapende rowers voor sy bed.

Voorste inbreker sê: “Ons soek geld.”

Toe sê Jors: “Wag net 'n bietjie, ek kom soek saam.”

Elke jaar Januarie is dit sulke tyd, veral hier teen die middel van die eerste maand. In die heersende geldstryd en feestyd bly die wegspring van elke jaar dieselfde. Alles, al was dit net 'n bietjie, is in Desember geblaas, want dit was Krismis en Nuwejaar.

Eerstes kom eerste. In die jaar wat op sy rug lê, is dag ná dag afgesloof om bloed en vlees bymekaar te hou. Nie net die dollars was gerek nie, maar ook die sente.

Nogtans het 'n paar munte in die begrotingspos Vakansie afgerol.

Immer met 'n glimlag was 'n oom by name Boetieman se stukkie wysheid: “Ek het baie hard gewerk vir hierdie senu-ineenstorting. Niemand gaan dit van my weghou nie.” Toe gaan hou hy maar vakansie om hom voor te berei op sy terugkomslag. Die immergroen ta' Mieta van 'n Suidedorp korrespondeer nog soos wat eens die gewoonte was. “Alles is op,” skryf sy.

“Op soos verlede maand se pay.” Sommer op straat sê nog een: “Daar's te veel maand oor vir my soldy.”

Vriendin Malie van Windhoek vertel van haar seunskroos van drie. “Die seunsgoed groei so dat hulle die nate van my beursie uittorring. Veral aan hul voete, want skoene is die duurste.”

Gesels selwers met Oerie daar uit die korporatiewe gemeenskap. Hy sê hy wil sy “CEO” gaan sien oor sy salaris. “Wil hom net gaan vra of ek maar een mag kry.”

Nog 'n storie kom van die Albertse, daai geslag wat bekend is vir die omvang van hul onderskeie krose. In hul huiskring is daar nou feitlik 'n kompetisie oor wie die beste kan deurwurg. As moeder van vele maak sy haar eie planne. Een daarvan is om van hierdie gestreepte tandepasta te koop. Borseltyd kry elke kleinding dan net 'n strepie.

Nog nader aan eie bodem word nou die dag deur die rakke van 'n groot winkel gedwaal.

'n Eie nooientjie se wink is verbystering. Hier staan dit op swart en wit: “Dis N$53 vir agtien hoendereiers! Op 'n haarbreedte is dit 30 sent per eier. Verkoop hulle dalk nou die eiers een-een?”

Sy kry 'n antwoord van maak gou. “Ek moet gaan soek.”

Vra my Bonnie: “'n Ander winkel met ander eiers?”

Blitsig en bitsig kom die antwoord: “Ons gaan soek die hen wat die goue eiers lê.”

Kry die breedsprakerige winkelbaas by die voordeur en groet met 'n daaropvolgende uitbarsting oor rakpryse.

“I surrender!” So kom sy antwoord asof dit 'n spreuk is waaraan hy vele kere oefen.

Daar is ook groter hartseer in die voorjaar.

In 'n eie worstelende spinasieakker het een van die kuierende Krismiskinders hier knap ná 26 Desember 'n drone opgetel. Dis waar die hommeltuig sy noodlanding uitgevoer het. Ondersoek toe die vreemde vlieënde voorwerp en onkunde vertel dat die kontrepsie nie juis iets oorgekom het nie. Bel toe al wat 'n bekende en onbekende buurmens is, maar niemand wis iets van die VVV nie. Bel 'n bekende hommel­eienaar, maar ook hy kan nie juis raad mompel nie. Vra wel na die fabrikaat en sê dit kan nie baie duur wees nie. “Sonder sy controls kan hy in elk geval nie vlieg nie.”

Nou lê die spinnekopagtige byderwetsheid hier veilig op 'n erfkas. Soms knipoog sy liggies wanneer dit donker word. Nogal heel spooky.

Maar hy's 'n stukkie nievlieënde hartseer. Iewers het ouers bietjie-bietjie gespaar om 'n seunsdroom waar te maak. Nou lê dit hier ongeskonde in die onbekende.

Naskrif: Kontakbesonderhede: 081 127 0168.

Kansvatters hoef nie te skakel nie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer