Nuwe Chelsea-breier het gewigtige taak

Sokker
Thomas Tuchel weet hy moet die vertroue van sy Chelsea-spelers wen.
Dié Duitser het Dinsdag die leisels by Stamford Bridge oorgeneem nadat Frank Lampard afgedank is.
Lampard het via die klub se akademie talle spelers na die Chelsea-span bevorder.
Talle spelers vir wie hy jare lank gebrei en na die topspan bevorder het, is deeglik bewus van die leemte wat sy vertrek by Chelsea laat.
Tuchel, ’n voormalige breier van Paris St. Germain, is die dag ná Lampard se afdanking aangestel.
Hy sê hy sal jongelinge ’n kans gee, maar Mason Mount moes Woensdagaand die plaasvervangersbank warm hou in Chelsea se doellose gelykop-uitslag teen Wolves. Billy Gilmour is heeltemal weggelaat vir dié stryd.
Die 47-jarige Duitser is vasbeslote om homself aan sy nuwe spelers te bewys. Die Blues het Sondag hul nuwe hoofstuk met hom aan die stuur begin met ’n oorwinning met 2-0 oor Burnley.
“Hoekom moet die spelers my vertrou? Omdat dit my eerste pos in Engelse sokker is? Ek moet aan hulle bewys dat hulle my kan vertrou,” sê Tuchel.
“Ek moet dit op die veld en in vergaderings kan bewys, dit is so eenvoudig soos dit.
“Die styl hier (in Engeland) is uniek en die intensiteit is hoog. Sjoe, dit het gelyk asof Wolves se spelers langer as twee meter lank is.
“Dié vlak van atletiese vermoëns is uniek. Dit bring die beste in elke speler na vore.
“Om met die beste afrigters in die wêreld mee te ding, sal hopelik die beste in my na vore bring. Dit is hoekom ek hier is. Hopelik is dít genoeg vir die spelers om my te vertrou.”
Tuchel se werk is egter nie net tot die veld beperk nie. Hy moet ook bewys dat hy sy spelers weg van die veld af kan beskerm.
Chelsea se Reece James (21) was Vrydag die slagoffer van rassistiese beledigings en diskriminasie op sosialemedia-platforms.
James het skermgrepe geplaas van beledigende boodskappe wat hy op Instagram ontvang het.
Chelsea sê in ’n verklaring hy is “gewalg” deur die beledigings en verwerp dit in die sterkste taal denkbaar.
Dié rassistiese opmerkings volg net dae nadat Manchester United se Anthony Martial en Axel Tuanzebe ook deurgeloop het. Daar was rassistiese kommentaar en simbole by ou foto’s wat hulle op Instagram geplaas het.
– Team Talk, Netwerk24


FOTO’s
Thomas Tuchel, Chelsea se nuwe afrigter, die afgelope Woensdag langs die sokkerveld in sy eerste wedstryd aan die stuur van die Premierliga-span. Foto Getty Images

Chelsea se Reece James was vandeesweek die slagoffer van rassistiese beledigings en aanmerkings op sosiale media. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer