Nuwe brandweerstasie vir Etoshapoort
Hulle bou reeds sedert April, maar volgens mnr. Aurdrey Mazenge van die Outjo-munisipaliteit, verwag hulle om teen einde Oktober die Etoshapoort informele nedersetting se nuwe brandweerstasie te open. Tans is die dorp se nooddienste – bestaande uit ’n brandweerlorrie, ’n ambulans en drie bakkies waarop ’n watertenk geplaas kan word – verantwoordelik vir bystand by ongelukke en brande. Volgens Mazenge sien die nooddienste baie uit na hul nuwe tuiste wat sowat N$3,4 miljoen gekos het. Hy sê daar was in die afgelope sewe jaar vier brande in Etoshapoort. “Gelukkig is niemand dood nie, hoewel ‘n man ernstig beseer is.” Die bestaande stelsel werk met brandkrane en vrywilligers wat te hulp snel wanneer vlamme bespeur word. “Die nuwe perseel se ligging sal baie help in terme van reaksietyd,” sê hy. “Die nuwe gebou is ideaal geleë, want dit sal maklik wees om in beide die dorp en die lokasie uit te kom.”
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie