Nuwe borg vasgeknoop voor vroue se toer
Nuwe borg vasgeknoop voor vroue se toer

Nuwe borg vasgeknoop voor vroue se toer

Die vrouespan se afrigter sê die groep kan nie wag om hul vordering die afgelope maande op die speelveld te laat tel nie.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Namibië se nasionale vroue­krieketspan het gistermiddag met Air Ethiopia vanaf Internasionale Lughawe Hosea Kutako na Rwanda vertrek om aan die sewende weergawe van die Rwandese Krieketvereniging se Kwibuka T20-toernooi deel te neem.

Die Capricorn Vroue-Eagles sal in Kigali by die Gahanga internasionale krieketstadion in groep B teen Kenia en Nigerië in 'n dubbelrondte in vier wedstryde kragte meet.

Botswana, Rwanda en Uganda pak mekaar in groep A.

Botswana, Namibië en Nigerië neem almal vanjaar vir die eerste keer aan die toernooi deel. Kenia, wat sedert 2014 die titel drie keer gewen het, het eers laas Saterdag sy deelname bevestig. Tanzanië, die 2019-kampioen, sal nie vanjaar sy titel verdedig nie. Weens Covid-19 was die byeenkoms in 2020 gekanselleer.

Me. Marlize Horn het gister as uitvoerende handelsmerkhoof die Capricorn-groep se steun aan die vroue aangekondig.

Horn het gesê: “Ons kondig trots Capricorn se betrokkenheid as hoofborg by die nasionale vrouespan aan. Capricorn sal ook Krieket Namibië (KN) se skolekrieketprogram vir meisies en ander kompetisies asook ontwikkeling bystaan.

“Meer besonderhede van die borg­skap sal bekend gemaak word nadat die Eagles van Rwanda teruggekeer het. Ons is opgewonde oor die vennootskap, want KN het 'n sprankelende getuigskrif wat administrasie betref.

“Ek wil graag vir mnr. Johan Muller, uitvoerende hoof van KN, namens die Capricorn-groep vir sy insette bedank. Sterkte aan die span, ons wens julle 'n veilige reis en suksesvolle kompetisie toe.”

Muller sê dit het lank geneem om die borgskap los te slaan.

“Dit is 'n absolute voorreg om die Capricorn-groep aan ons sy te hê. Hulle is hier vir Namibiërs en ondersteun Namibiese sport al vir etlike jare en het dieselfde visie as ons rakende die opheffing van vroue en vrouesport in ons land.

“Hierdie borgskap is die produk van vier maande se onderhandelinge. Ek het nog geen inligting beskikbaar nie, maar alles sal afgehandel en in 'n latere stadium aangekondig word,” het Muller gesê.

Francois van der Merwe, hoofafrigter, sê die vroue het die afgelope maande deeglik vir dié oomblik voorberei.

“Ek is nou amper 'n jaar as hoofafrigter by die nasionale vrouespan betrokke. Ons het die afgelope tien maande baie hard gewerk. Ek kan nie sê daar is één van ons spelers wat nie op peil is nie. Daar is aan elke aspek van die spel geskaaf en dit is wat ons gaan beheer.

“Ons het die afgelope jaar baie reggekry en programme aan die gang gesit. Dit gaan nie net oor die nasionale span nie. Ons het verskeie strukture ingestel om die grondslag vir meisies in die laerskole en hoërskole te lê. KN se strukture is baie gesond en dit is belangrik om die pyplyn van talent reg te hê wat die nasionale span moet voed.

“Die span is baie goed voorberei, want hulle het teen mekaar gespeel en ook aan die T20 Richelieu-kompetisie deelgeneem. Die spelers sien geweldig uit om weer 'n slag internasionale krieket te kan speel,” het Van der Merwe verduidelik.

Die spankaptein, Irene van Zyl, sê die vroue wil graag hul internasionale ranglysposisie verbeter.

“Ná al die harde werk en sweet sien die spelers geweldig uit na die uitdaging. Ons is baie bevoorreg dat die Rwandese Krieketvereniging ons genooi het.

“Ons speel Maandag ons eerste wedstryd teen Nigerië en die volgende dag teen Kenia. Op 10 en 11 Junie speel ons weer teen Nigerië en Kenia.

“Die groepwenners sal op 12 Junie in die eindstryd speel, terwyl die nommer twee spanne sake vir die bronsmedalje uitspook.

“Hoewel ons beide Uganda en Kenia in 2019 in die Afrika-uitduntoernooi geklop het, word hulle steeds hoër as ons op die IKR se T20-wêreldranglys aangedui.

“Dis vir ons die ideale kans om ons internasionale posisie te verbeter. Hoewel Uganda nie in ons groep is nie, is Kenia wel. As ons hulle kan klop, sal dit beslis in ons guns tel om ons ranglysposisie met 'n paar plekke te verbeter,” het die kaptein gesê.

Zimbabwe (12), Uganda (18), Tanzanië (19) en Kenia (22) word tans bo Namibië (23) gereken. Vir Rwanda (34), Botswana (40), Nigerië (41) en Malawi (45) moet nog baie water in die see loop.

Suid-Afrika se Proteas word as die vyfde beste T20-span deur die IKR gereken ná Australië (eerste), Engeland (tweede), Indië en Nieu-Seeland.

Die Eagles-spelersgroep: Irene van Zyl (kaptein), Yasmeen Khan (onderkaptein), Arrasta Diergaardt, Didi Foerster, Mezerly Gorases, Kayleen Green, Victoria Hamunyela, Reehana Khan, Wilka Mwatile, Sylvia Shihepo, Namusha Shiomwenyo, Adri van der Merwe, Edelle van Zyl, Suné Wittmann.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer