Nuwe betalingstelsel vir banke ontwerp

Bestaande infrastruktuur is verouderd

08 March 2018 | Bankwese
Nellie Brand-Jonker

Die onsigbare betalingstelsels tussen die banke in Suid-Afrika is al baie oud en ’n nuwe een gaan ontwerp word wat vinniger en hopelik goedkoper bankdienste gaan meebring. Martin Grunewald, hoof van digitale infrastruktuur van BankservAfrica, het vrae hieroor beantwoord:

Wie is BankservAfrica?

Ons is al 45 jaar oud. Die vier groot banke besit die meerderheidsaandeel en ’n konsortium van kleiner banke besit ook ’n deel. Ons word deur die Reserwebank en die Betalingsvereniging van Suid-Afrika (Pasa) beheer.

Hoe het julle begin en hoe het dinge verander?

Ons het jare gelede begin om tjeks te verwerk. Toe het meer as 200 mense vir ons gewerk wat tjeks verwerk het. Vandag het ons vier mense wat dit doen. Nou werk omtrent 380 mense vir ons, van wie omtrent 70% IT-verwante werk doen.

Wat doen julle presies?

Ons doen die “loodgieterswerk” van die betalingstelsel. Ons maak betalings moontlik. Byvoorbeeld, as jy ’n betaling op die internet aan iemand maak wat by ’n ander bank is, verwerk ons die transaksie tussen die banke. Ons skep daardie verbinding tussen almal.

Is Saswitch deel van julle?

Ja, as jy geld onttrek by ’n OTM van ’n bank wat nie jou bank is nie, fasiliteer ons die transaksie tussen die banke.

Of as die eienaar van ’n onderneming by FNB bank en jy by Absa, fasiliteer ons ook dié skuif tussen die banke. Ons maak ook elektroniese oorplasings moontlik en debietorders vir skuldinvordering.

Hoekom is dit nodig om die betalingstelsel te vervang?

Baie van ons infrastruktuur is tussen tien en 20 jaar oud. Baie lande in die wêreld het begin belê in ’n nuwe betalingstelsel vir die nuwe digitale ekonomie waar alles intyds moet gebeur. Dit is ’n ekonomie waar iemand ’n betaling maak en wil hê dit moet onmiddellik by die bestemming kom.

Hoe ver is julle met die navorsing en wanneer gaan dit klaar wees?

Die navorsing is afgehandel. Ons het onder meer navorsing gedoen oor wat verskillende lande gedoen het en gaan die beste wat hulle doen, gebruik om ons stelsel te ontwerp.

Ons moes eers bepaal wat die land se doelstellings is met ’n betalingstelsel in die toekoms. Die Reserwebank gaan binnekort sy 2025-visie bekend stel en dit sal ons ook help met wat die land se doelstellings in terme van ’n betalingstelsel gaan wees.

Daar gaan ’n sterk fokus op finansiële insluiting wees. Ons hoop om die ontwerp-werk teen Junie te voltooi, sodat ons dan kan begin kyk na watter tegnologie daarvoor gebruik moet word.

Wat sal die grootste verandering wees, gaan ’n mens nog drie dae of so wag vir ’n betaling?

Nee, dit gaan intyds of amper intyds wees. Ek dink die grootste verandering wat ’n verbruiker gaan ervaar, is dat die meeste transaksies intyds geskied. Die tweede groot verandering gaan wees dat dit oper en makliker gaan wees vir finansiële tegnologie-ondernemings om by die betalingstelsel te integreer.

’n Goeie voorbeeld is ’n onderneming wat dit moontlik maak vir verbruikers om hul kragrekening vooruit te betaal. Hulle open nou dikwels bankrekeninge by elke bank om te sien wanneer jy betaal, sodat hulle jou elektrisiteit dadelik kan laai. In die toekoms gaan dit nie meer nodig wees nie.

Hulle sal kan bank waar hulle wil en die transaksie sal intyds plaasvind. Dit sal dié soort maatskappy se bedrywighede vergemaklik. Wat ons in die toekoms gaan hê, moet vinniger wees en intyds en dit moet vir die digitale ekonomie voorsiening maak.

Wat is die digitale ekonomie?

Dit is byvoorbeeld advertensies wat ’n mens nou kry op iets soos Facebook waarop jy dadelik kan reageer. In ’n digitale ekonomie sal jy byvoorbeeld vir ’n vakansie wat teen ’n spesiale prys geadverteer word dadelik kan ja sê en die betaling kan doen.

Vandag word jy eers herlei na ’n webtuiste waar jy al jou inligting invul en dan word jy weer na ’n ander webtuiste geneem om die betaling te doen.

Hoe gaan dit mense help wat nie nou bankrekeninge het nie?

As ons daardie infrastruktuur het en dit is makliker en goedkoper om aan dit te koppel, gaan dit banke toelaat om te innoveer rondom hoe hulle dít gaan doen.

Byvoorbeeld, baie mense wat nie ’n bankrekening het nie, gebruik selfone. As jy transaksies tussen ’n selfoon en ’n selfoon op ’n goedkoper manier kan doen, begin dit reeds finansiële insluiting fasiliteer.

Gaan dit bankdienste goedkoper maak?

Die idee is om een stelsel vir alle betalingstrome te hê. Ons het nou verskillende stelsels vir verskillende betalingstrome, want dit is hoe dit ontwikkel het. Verskillende goed is op verskillende tye gebou.

Betalingstrome is byvoorbeeld ’n elektroniese oorplasing, ’n betaling met ’n kaart of ’n transaksie wat by ’n OTM plaasvind. In die toekoms sal dit een stelsel wees wat al die betalings hanteer. Teoreties behoort die prys te daal as jy een stelsel het met hoër volumes.

Gaan kriptogeld ook in die stelsel gebruik kan word?

Ons sal dit so moet bou dat sou kriptogeld die norm word en mense wil dit gebruik dat dit daarvoor voorsiening maak. Daar is baie menings oor wat met kriptogeld gaan gebeur. Ons hoef nie ’n oordeel te fel nie, ons moet net seker maak die betalingstelsel maak voorsiening daarvoor.

Gaan julle ooit van lyn af?

Ons het al voorvalle gehad, maar dit is baie selde. En dan is dit net ’n paar minute. Twee jaar gelede het ons gesukkel met Swart Vrydag om die volumes te hanteer. Ons het ons vermoë vir die afgelope Swart Vrydag viervoudig verhoog om meer transaksies per minuut te kan verwerk. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Plastieksakke uit nasionale parke verban

12 ure gelede | Omgewing

Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het plastieksakke uit alle nasionale parke in die land verban. Die minister het gemaan geen...

Nampol-beamptes skuldig aan nalatigheid

12 ure gelede | Misdaad

Twee senior polisiebeamptes wat intern ondersoek is vir hul beweerde nalatigheid om betyds te reageer in ‘n saak waarin ‘n 18-jarige vyf familielede vroeër vanjaar...

Ollies les hul dors

22 ure gelede | In beeld

Namibiërs in die Zambezistreek kan vandag na verspreide donderbuie uitsien, terwyl dié elders in die binneland vir eers nog met enkele tot geïsoleerde buie tevrede...

Ekonomie: Hou sand uit wiele

22 ure gelede | Politiek

Ronelle Rademeyer Dubbele belasting, soos belasting op dividende en belasting op kapitaalwins is immoreel en gaan nié die ekonomie laat groei nie.'n Ekonomie is die...

PS'e binnekort nié permanent

22 ure gelede | Regering

Denver Kisting - As beplande wetgewing deurgevoer word, is PS’e binnekort nie meer “permanent” in die tuig nie.Hiernaas sal dié rekenpligtige beamptes van ministeries ook...

Gróót regshervorming binnekort op pad

22 ure gelede | Ministeries

Denver Kisting – Die werksaamhede van die land se howe word deur verskeie uitdagings gekortwiek.In die lig van hervorming wat die minister van justisie, mnr....

Ongelukke: Namibië 45ste op wêreldranglys

22 ure gelede | Ongelukke

Padongelukke kos Namibië jaarliks N$1,3 miljard en is die oorsaak van 3,76% van die land se totale sterftes.Dié skokkende syfers is Dinsdag namens die minister...

Weer vir 23 November 2018

22 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloe­dig warm in die ||Kharasstreek en die Weste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele...

Weer, Donderdag 22 November 2018

22 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en baie tot bloedig warm in die //Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees. Enkele donderbuie word in...