Nuwe besems vir Tasa
Nuwe besems vir Tasa

Nuwe besems vir Tasa

Die toerismebedryf ervaar tans groot uitdagings tydens die Covid-19-pandemie.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Die Toer- en Safarivereniging van Namibië (Tasa) spog met ’n splinternuwe direksie wat tydens uitdagende tye in die toerismesektor die leisels moet vat.

Die nuwe direksie is op 6 Augustus tydens Tasa se jaarvergadering aangewys met ’n rekord van 40 lede wat die vergadering bygewoon het.

Aan stuur as voorsitter staan me. Nathaly Ahrens van Wilderness Safaris wat ’n groot taak op haar skouers het midde die ineenstorting van die toerismebedryf tydens die Covid-19-pandemie.

“Oor die laaste paar maande was daar ’n aantal ongekende veranderinge in die internasionale en Namibiese toerismelandskap,” lui ’n mediaverklaring van Tasa.

Die jaarvergadering is deur die interim-voorsitter van die uitgaande direksie, mnr. Bernd Schneider, gelei ná die bedanking in Junie van die voorsitter, mnr. Carsten von Lüttwitz.

Onderwerpe onder bespreking was inderdaad die huidige stand van sake in Namibië, asook hoe die toekoms van toerisme lyk.

“Terwyl daar baie pessimisme is oor die toerismebedryf wat wêreldwyd hard geslaan is, is daar sterk geloof dat Namibië ’n gesogte, veilige reisbestemming is sodra toeriste weer kan reis,” lui die verklaring.

“As protokol van die Namibië Toerismeraad (NTB), asook die Wêreldreis en Toerismeraad (WTTC) deur alle rolspelers gevolg word, is beklemtoon dat dit belangrik is dat gemoedsrus aan agente en toeriste gegee word wanneer hulle Namibië as bestemming sal kies.”

Schneider het terugvoering oor vergaderings tussen rolspelers en die regering gegee in hul pogings om oplossings vir die ekonomiese krisis te gee waarin die toerismebedryf verkeer.

Die nuwe direksie se termyn sal oor twee jaar strek en bestaan uit tien lede, naamlik: Ahrens as voorsitter, mee. Margo Bishop van ATI Holidays as ondervoorsitter, Tanya van As van Sense of Africa as sekretaresse, Marie Friede van African Profile Safaris as tesourier, asook mnr. Frans Ndoroma van Intermix Tours & Safaris, me. Roswitha Lowe van Africa Calls, mnr. Emiliano Benolich van HB Safaris, me. Isolde Kollmitz van Trip Tours Namibia, mnr. Delphin Ilunga Furaha Tours & Safaris en me. Bianca von Lieres van Matiti Safaris.

Ahrens is sedert 1995 in die Namibiese toerismesektor, en het verskeie posisies in die bedryf beklee en op die direksies van die Gasvryheidsvereniging (HAN) en Tasa gedien. Sy het ook Air Namibia by die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings (Fenata) en NTB verteenwoordig.

Tasa is in 1989 gestig. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer