Nuwe begin vir mense op straat

Sestien mense wat tevore op straat gewoon het, het op Swakopmund 'n nuwe tuiste en begin gevind.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprech



Dit het begin as 'n opdrag van pres. Hage Geingob om in die lig van die Covid-19-pandemie straatgebaseerde persone in 'n veilige en skoon omgewing te plaas.

Twee maatskaplike werkers op Swakopmund is aangewys wat dié projek moes dryf en Street Based Persons Network het amptelik die lig gesien. Dit was mense met dieselfde behoeftes, maar elkeen met sy eie stryd wat as een gemeenskap saamkom.

Mnr. Adam Labuschagne, 'n maatskaplike werker gebaseer op Swakopmund, het saam met me. Angela Prusa en mnr. Carl Pesat, trustees van die projek uit die gemeenskap, hande met ver­skeie vennote gevat om daagliks klasse aan te bied vir die 16 tydelike inwoners van die jeugsentrum op die dorp. Die klasse sluit kuns, houtwerk en die basiese verbouing van groente in.

Die doel is om hulle selfonderhoudend te maak. Die netwerk verskaf ook 'n warm bed, storte en kos, help met kliniese ondersoeke en mediese paspoorte, asook dokumentasie soos identiteits­dokumente.

“Die netwerk is daarop gerig om individue te help om hulself te help,” verduidelik Labuschagne.

“Die mans kry persoonlike berading en ons help hulle ook om hul gesondheidspaspoorte en identiteitsdokumente uit te klaar,” sê hy.

Die doel van die groentetuin wat hulle aangeplant het, is om inwoners selfonderhoudend te maak.

“As alles goed gaan, hoop ons om later 'n markie te begin waar hulle die produkte aan die publiek kan verkoop.”



LANGTERMYNDOELWIT

Van die mans het reeds werk gekry, terwyl van die inwoners ook berading vir verslawing ontvang. Uit die 16 inwoners het nege verslawings en volgens ­Labuschagne is ses reeds vir die tydperk wat hulle in die sentrum woon skoon en werk hulle hard om hul ver­slawings te oorkom.

Van die ondersteuning wat die inwoners ontvang, sluit ook kunsklasse en onderrig in lewensvaardighede in.

“Hulle maak hul eie kos en maak ook self die sentrum skoon.”

Die langtermyndoelwit van Street Based Persons Network is volgens Labuschagne om die regering te help om 'n beleid vir straat­gebaseerde persone te skryf, iets wat tans nie bestaan nie.

Labuschagne sê 'n argitek is ook aan boord en in gesprek met die Swakopmund-munisipaliteit om grond te kry om strukture vir 'n hoofkantoor op die kusdorp op te rig. Die hoop is om later ook ­satellietkantore in die res van die land op te rig.

Hy het 'n beroep op inwoners aan die kus gedoen om die projek met welke bydrae ook al te ondersteun.

“Ons probeer seker maak almal kry saam iets en ook te verseker dat inwoners van die sentrum nie dit verkoop wat hulle kry nie.”

Vir meer oor die projek en vir ondersteuning kan Labuschagne by 081 366 3907 gekontak word.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer