Nuwe bedeling kom vir isolasie, kwarantyn
Nuwe bedeling kom vir isolasie, kwarantyn

Nuwe bedeling kom vir isolasie, kwarantyn

Denver Kisting


Denver Kisting – Dr. Theo-Ben Kandetu, wat aan spits staan van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se Covid-19-gevallebestuurspan, sê die nuwe strategie rondom isolasie en kwarantyn is op simptome geskoei.

Pasiënte wat positief toets vir Covid-19 en simptome toon, sal van die dag wat die simptome ontwikkel vir tien dae ge?soleer word, het hy vanoggend by die Covid-19-kommunikasiesentrum (CCC) in die hoofstad gesê.

Sodra dié pasiënte vir drie dae daarná geen simptome meer toon nie, sal hulle uit isolasie ontslaan word, sê Kandetu.

Dit beteken hulle sal mag terugkeer huis toe en werk toe, sê hy.

Volgens hom is die vorige strategie geskoei op opvolgtoetse.

Pasiënte wat geen simptome van die virus toon nie, maar wel Covid-19 onder lede het, is ’n uitdaging vir die gesondheidsowerhede, het Kandetu toegegee. “Hulle kan steeds die virus na ander lede van die samelewing versprei.”

Dié pasiënte sal voortaan vir tien dae sedert hul positiewe toets in isolasie geplaas word.

Hy sê die beleidsverandering is hoofsaaklik meegebring deur nuwe wetenskaplike inligting oor die virus wat bekend geword het.

Luidens dié bevindinge beteken dit nie wanneer iemand steeds positief toets vir die virus dat hulle iemand anders kan aansteek nie, sê Kandetu.

Hiernaas is die besluit ook be?nvloed deur ’n gebrek aan isolasiegeriewe, die behoefte om voorkeur te gee aan pasiënte wat ernstig siek is in dié beperkte geriewe en die druk op die land se laboratoriums veral wat opvolgtoetse betref, het hy gesê.

Me. Emmy-Else Ndevaetela, die hoof van die ministerie se opsporingspan, sê twee kategorieë mense word in kwarantyn geplaas – nabye kontakte van bevestigde gevalle en alle terugkerende Namibiërs.

Dié tydperk was tot dusver 14 dae – die duur van “die langste inkubasietydperk van Covid-19”.

Dit het ten doel gehad om “in die geval van moontlike besmetting, oordrag te beperk”, sê sy.

Volgens haar is die aanvanklike groep mense vanweë ’n gebrek aan hulpbronne nie getoets voor hulle ontslaan is nie.

Dit is net mense, wat terwyl hulle in kwarantyn was simptome ontwikkel het, wat toe getoets is. “Toe stel ons vas die meeste Covid-19-pasiënte ontwikkel geen simptome nie.”

Sedertdien is almal in kwarantyn op Dag 12 getoets en twee dae later ontslaan mits hulle toetsuitslae negatief was, het sy gesê.

Tans word almal onmiddellik getoets en weer op Dag 12.

Sou iemand se aanvanklike toets positief wees, word hulle in isolasie geplaas, sê sy. “Natuurlik het ons uitdagings ervaar met talle gevalle wat opgedaag het en toe het ons ’n agterstand met uitslae. Ons het onsself in ’n situasie bevind waar mense dubbel die inkubasietydperk in kwarantyn moes deurbring.” Dít, sê sy, “was nie ’n aangename omgewing vir enigiemand nie”.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer