Nuwe bakkies is hier

Luuksheid en pure krag word in een mooie voertuig saamgesmelt.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die spoggerige P-reeks GWM-bakkies het in Windhoek aangekom en Pupkewitz het Saterdag die heel luuksste van die reeks, die Luxury Tourer (LT) outomatiese agt-rat 4x4, voor sy perseel op Onafhanklikheidslaan uitgestal.

Die blink bakkie was beskikbaar om te besigtig of vir toetsbestuur, vir diegene wat wou. Verskeie entoesiaste het die geleentheid aangegryp om die deure oop te maak en op die sagte sitplekke te sit.

Die verkoopshoof van ­Pupkewitz GWM en Haval, me. Bianca Weak­ley, het die gasvryheid beklemtoon en was gretig om haar insette oor die nuwe dubbelkajuitvoertuie met belangstellendes te deel.

Saam met die LT is daar ook reeds 'n SX 2x4 en 'n SX 4x4 in die land van Pupkewitz beskikbaar, terwyl die res van die reeks sonder lang vertraging uit Suid-Afrika bestel kan word. Sy sê hierdie reeks verskil baie van die Steed-bakkies wat reeds hul merk op Namibiese stofpaaie agtergelaat het.

Weakley sê die P-Series LT is meer gepas vir 'n uitstappie Grove Mall toe, of om die langpad see toe met gemak en selfvertroue aan te pak. Wie sou so 'n mooi masjien wou vuil maak?

Die agteruitsigkameras help maak die lengte en breedte van die voertuig maklik hanteerbaar, terwyl die swaar agterklap se veerskokstutte die bak se oopmaak versag.

Die toepassing van tegnologie vir veiliger bestuur is 'n kenmerk van hierdie nuwe benadering tot luukse bakkies. Waarskuwings terwyl van baan verwissel word, asook 'n stelsel wat help om die bakkie selfs op spoed in die middel van die baan te hou, kom standaard saam met 'n stelsel om teen voetgangers en fietsryers te waarsku.

Radar word ingespan om verkeer agter die voertuig raak te sien en ook te verhoed dat die bestuurder teen iets bots wanneer jy agteruit ry. Remme werk outomaties wanneer 'n moontlike ongeluk bespeur word.

In die geval van die SX-weergawes benodig die afslaan van daai agterklap beslis meer mannekrag. Die SX is die P-reeks se antwoord vir werkverrigting en word ook vir meer kom­mersiële doeleindes ingerig. Die tweeliter-dieselenjin kan tot 120 kW uitskop en die agterwielgedrewe vragdraer kom standaard met stabiliteitsbeheer, trekbeheer en kragstuur.

ABS-remme en 'n wielbanddruk- en afblaasmonitorstelsel is ook standaard.

Teen minder as N$380 000 vir die 2x4 SX GWM P-reeks bakkie, en onder N$550 000 vir die luukse LT, is 'n nader kykie van hierdie voertuie die moeite werd.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer