Nuwe aktewet wek kommer
Nuwe aktewet wek kommer

Nuwe aktewet wek kommer

Aktebesorgers is bekommerd oor die moontlikheid dat Jan Alleman aktes voorts self sal kan registreer.
Augetto Graig
Augetto Graig



Namibië se nuwe aktewet draai tans by die regering se wets­ontwerpers en sal daarná in die Staatskoerant gepubliseer word.

Dít volgens mnr. Dana Beukes, ­direkteur van aktes in die ministerie van grondhervorming.

Kommer oor die nuwe wet is onlangs deur plaaslike aktebesorgers uitgespreek, wat hul sentrale rol in die oordrag van eiendom benadruk.

As sentraal tot die proses waardeur aktes wettig gemaak word, bestee hierdie spesialis-prokureurs noukeurige aandag daaraan om ­volledige en wettige aktes te ontwerp.

Die swak en onakkurate opstel van aktes lei tot onsekerheid en geskille oor regte, wat plaaslik dikwels in die hof draai, sê aktebesorgers.

Tans vorder hulle fooie namens die ontvanger van inkomste in en ­verseker betaling.

Volgens mnr. Helmut Stolze, aktebesorger by Shikongo Law Chambers in Windhoek, sal die sekerheid van aktes in die gedrang kom, asook 'n tekort aan aanspreeklikheid vir ­eiendomsoordrag, indien die nuwe wet eienaars toelaat om dié regs­dokument self op te stel.

Hy sê dit sal meer bedrog, eienaarsgeskille, geldwassery, omkopery en korrupsie tot gevolg hê.

“Aktebesorgers vervul 'n belangrike rol in die sekuriteit van titelaktes,” sê Stolze.

Hy sê inkomste deur belasting, asook die bankstelsel word kwesbaar, en die regering aanvaar volgens dié wet minder aanspreeklikheid vir foute.

“Dit sal die noukeurigheid, wetlike akkuraatheid en betroubaarheid van die registrasie van aktes bedreig,” sê hy.

Volgens Beukes is dít egter onwaar.

Hy verwys na Rehoboth se stelsel, waar burgers die dokumente lankal reeds self opstel.

Rehoboth se register word volgens die Wet op die Registrasie van Akte op Rehoboth nommer 93 van 1976 bestuur, terwyl die Akteregisterwet 47 van 1937 nog op die res van die land van toepassing is.

Die Akteregisterwet 14 van 2015 vervang die meer as 20 bestaande wette gedeeltelik of in die geheel, wat albei die bogenoemde insluit.

Die nuwe wet “gee ons die opsie om dit self te doen”.

“Gaan na die webwerf, laai die dokument af, vul die koopkontrak in, gaan na die bank om dit in te dien, en dan na die ontvanger om dit te verklaar,” het Beukes gesê.

Volgens hom het die regering die massas, wat nie oordragkoste kan bekostig nie, se pleidooi gehoor, en besluit om te help.

Dit beteken volgens Beukes egter nie die aktebesorgers word afgeskeep nie.

“Ons kan prokureurs nie net weggooi nie. Hulle is steeds daar. Ons vat nie hul werk weg nie. Ons vat nie hul ­jurisdiksie weg nie,” sê hy.

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer