Nuus noodsaaklik vir die mensdom

Wêreldpersvryheidsdag in Windhoek gevier

03 May 2021 | Gebeure
Ronelle Rademeyer



Die wêreld moet pogings verstewig om joernaliste veilig te hou.

Oor die afgelope tien jaar is daar elke vier dae 'n joernalis vermoor.

Aanlyn teistering is ewe erg – en veral vroulike joernaliste loop deur. Twee van die wêreld se mees geteikende vrouejoernaliste, onder wie Maria Ressa van die Filippyne, was reeds aan 2,5 miljoen aanlyn plasings onderwerp waarin hulle geteister en gedreig is.

Só het die direkteur-generaal van Unesco, me. Audrey Azoulay, gistermiddag tydens die amptelike opening van die herdenking van 30 jaar van die Windhoek-deklarasie en die viering van Wêreldpersvryheidsdag 2021 in die Namibiese hoofstad gesê.

Meer as 3 000 mense van oraloor die wêreld het geregistreer om die konferensie van 29 April tot vandag aanlyn te volg, aangesien nie meer as 100 mense die verrigtinge in persoon by die Safari Hotel en Konferensiesentrum kon bywoon nie.

Die tema van vanjaar se Wêreldpersvryheidsdag, wat sedert 1993 jaarliks op 3 Mei gevier word, is “inligting as 'n openbare goedere” tot voordeel van die samelewing.

Azoulay sê vanjaar se tema “be­klemtoon die onbetwisbare belang van geverifieerde en betroubare ­inligting”.

“Dit vestig die aandag op die wesen­like rol van vrye en ­professionele ­joernaliste in die vervaardiging en verspreiding van hierdie inligting deur waninligting en ander skadelike inhoud te takel.”

Sy het haar kommer oor die fisieke veiligheid van ­joernaliste uitgespreek en gesê aanlyn ­teistering van veral vroulike joernaliste is net so kommerwekkend.

António Guterres, sekretaris-­generaal van die Verenigde Nasies (VN), het daarop gewys joernaliste is die mensdom se vernaamste bondgenote in die stryd teen vals en misleidende inligting.

In teenstelling met wan­inligting, is waar en geverifieerde inligting wat deur vry, onafhanklike en pluralistiese media verskaf word, 'n noodsaaklikheid vir die mensdom. Guterres het daarna as “lewensreddend” verwys.

Hy sê joernaliste en mediawerkers is in die uitvoering van hul werk dikwels aan groot persoonlike gevare blootgestel en het gevra regerings moet alles in hul vermoë doen om hulle te beskerm.

Pres. Hage Geingob het nie die verrigtinge gister by­gewoon nie. Sy perssekretaris, dr. Alfredo Hengari, het die media vroeër in kennis gestel die staatshoof is “op aanbeveling” in ­kwarantyn aangesien hy die vorige naweek tydens sy besoek aan die ­Zambezistreek met baie mense in kontak was.

Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het namens die Namibiese regering die afgevaardigdes verwelkom en verwys na Namibië se nommer 1-posisie in Afrika op die persvryheidsindeks van Joernaliste Sonder Grense.

Sy het gesê betekenisvolle en feitelike inligting is die grondslag van 'n demokratiese samelewing.

Verder het sy 'n pleidooi gelewer dat die media help met nasiebou en die bydrae tot die voorspoed en ontwikkeling van die samelewing.

Sy het ook gewys op die ­belangrikheid dat ­joernaliste feite verifieer, en die openbare belang bo hul eie belang plaas.

Om die belangrikheid van ­inligting binne die aanlyn me­dia­­omgewing te beklemtoon, is die afgelope vier dae aan die ­volgende drie onderwerpe aandag gegee:

• Stappe om die ekonomiese lewenskragtigheid van nuusmedia te verseker;

• Meganismes om deursigtigheid van internetmaatskappye te verseker;

• Verbeterde media- en inligtingsgeletterdheid (MIL) sodat mense in staat is om goeie joernalistiek te herken, te waardeer, dit te verdedig en daarop aan te dring.

Een van die belangrike besprekings onder leiding van Die ­Redakteursforum vir Afrika (TAEF) het gehandel oor die opstelling van 'n ­opvolgerdokument vir die ­Windhoek-deklarasie wat in 1991 na afloop van die Windhoek-­seminaar in die ­Namibiese hoofstad aanvaar is. Dit sal die ­Windhoek-deklarasie 30-plus genoem word.

[email protected]

Soortgelyk

 

Ses sterftes, 177 nuwe gevalle

14 ure gelede | Gesondheid

Die Covid-19-verwante sterftesyfer sedert die aanvang van die pandemie in Maart verlede jaar skuif met ses - vyf in Windhoek en een in Keetmanshoop -...

341 nuwe gevalle, een sterfte

1 dag gelede | Gesondheid

Die Covid-19-verwante sterftes vir die land staan op 683 ná die dood van 'n 52-jarige man van die Okakarara-distrik. Vandag is 341 nuwe gevalle aangemeld...

Britse miljardêr hoor Dinsdag oor borgtog

2 dae gelede | Howe

Mnr. Harvey Eric Boulter (51, foto), die Britse miljardêr en plaaseienaar van Kamanjab wat vandeesweek in die landdroshof op Outjo om borgtog aangesoek gedoen het,...

NBC-staking duur voort, 74 werknemers terug in die tuig...

2 dae gelede | Arbeid

Hoewel die NBC-staking voortduur, het 74 werknemers intussen teruggekeer werk toe en is die Engelse radiodiens, National FM, weer terug op die lug.Die voorsitter van...

Sinopharm deur WHO vir noodgebruik goedgekeur

2 dae gelede | Gesondheid

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) het die Sinopharm-entstof teen Covid-19 vandag vir noodgebruik goedgekeur. Die enstof wat saam met Covishield/AstraZeneca in Namibië in die land se immuniseringsveldtog...

Sewe toets positief by NIP-laboratorium

2 dae gelede | Gesondheid

Sewe mense het positief vir Covid-19 by die Nasionale Insitituut vir Patologie (NIP) se laboratorium in Windhoek getoets wat by die instituut se hoofkantoor geleë...

8 sterftes, 92 nuwe gevalle

2 dae gelede | Gesondheid

Die Covid-19-verwante sterftes vir Namibië sedert die aanvang van die pandemie in Maart verlede jaar het met nog agt - drie elk in onderskeidelik Windhoek...

Self-management and its impact in leadership

3 dae gelede |

Gabrielle BotelhoSelf-management is the second pillar of emotional intelligence. It is a competency that is composed by the following abilities: self-control, trustworthiness, conscientiousness, adaptability, achievement...

A lawyer’s dream

3 dae gelede | Mense

Rivaldo KavangaIt is many Namibian law students’ and lawyers’ dream to start their own law firm. Henry Shimutwikeni has achieved this by establishing his own...