• Tuisblad
  • Afrika
  • Nujoma pleit vir dialoog tussen strydlustiges in Ethiopië
 Nujoma pleit vir dialoog tussen strydlustiges in Ethiopiu00eb
Nujoma pleit vir dialoog tussen strydlustiges in Ethiopiu00eb

Nujoma pleit vir dialoog tussen strydlustiges in Ethiopië

Ronelle Rademeyer
Die politieke en ideologiese konflik tussen Ethiopië se federale regering en die noordelike streek van Tigray het die potensiaal om in ‘n burgeroorlog te ontaard wat 'n reeds brose en wisselvallige streek kan destabiliseer.
So sê oudpres. Sam Nujoma in 'n verklaring wat Vrydag uitgereik is.
Hy doen daarin 'n beroep op strydlustiges in Ethiopië om onmiddellik hul vyandelikhede te staak, humanitêre toegang te verseker en toestande te skep wat bevorderlik is vir 'n Ethiopies-geleide politieke dialoog as die enigste weg na vrede.
Nujoma sê dialoog bly die enigste betroubare en volhoubare weg na vrede, en voeg by dat daar geen militêre oplossing vir die konflik is nie. Hy sê oorwinning op die slagveld waarborg nie politieke stabiliteit nie.
“Ek doen 'n beroep op die leierskap aan beide kante om hul militêre offensiewe te staak en geleentheid te skep vir dialoog om plaas te vind. Die gebrek aan betekenisvolle gesprekvoering tussen die hoofrolspelers is vir my ontstellend en ek doen daarom 'n beroep op alle Ethiopiërs om saam te staan, hulle vyandelikhede te staak en 'n vriendskaplike oplossing vir volhoubare vrede te vind,” beklemtoon hy in die verklaring.
Nujomamoedig ook die Afrika-unie (AU) se Vredes- en Veiligheidsraad aan om dringend in te gryp om die konflik in Ethiopië op te los en te bestuur.
“Ek doen ’n beroep op hulle om tydige en doeltreffende stappe te doen om die krisis in Ethiopië op te los. Afrika kan nie 'n nasie in oorlog met homself bekostig nie – die geskiedenis het bewys dat burgeroorloë ‘n groot en beduidende impak op makro-ekonomiese aanwysers soos bruto binnelandse produk en handel het,” sê hy.
Namibië se stigterspresident sê verder benewens die invloed op handel, kan geweld tot die grootskaalse ontworteling van mense lei, wat op sy beurt ‘n destabiliserende streeks- en globale impak kan hê.
“Ek doen 'n beroep op die welwillendheid van mense, asook leiers in Afrika en die internasionale gemeenskap om voort te gaan met die bemiddelingspogings van oudpres. Olusegun Obasanjo as verteenwoordiger van die voorsitter van die AU-kommissie vir die Horing van Afrika. Hierdie konflik sal waarskynlik 'n uitgerekte en vernietigende oorlog wees wat beduidende gevolge vir Ethiopië en dié gebied kan hê,” sê Nujoma in die verklaring. – Nampa

Foto: Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer