Nubuamis weer groot gemors ná reën
Tanja Bause
Die klein rivier wat van die informele nedersetting buite Windhoek af deur die Nubuamis-plotte vloei, het Sondag sterk afgekom en opnuut 'n gemors van dié omgewing se plotte gemaak.
Die rivier het in Januarie vir die eerste keer in die seisoen afgekom en daarmee saam 'n oorvloed bottels, skoene, huishoudelike afval en babadoeke gebring.
'n Inwoner van een van die plotte wat die rivier eerste bereik, het gesê hy en sy werkers tel al die afgelope agt jaar ná goeie reën die rommel op en ry dit weg.
“Ek ry gewoonlik sowat 10 vragte van twee volgelaaide sleepwaens en my bakkie weg nadat die rivier afgekom het,” het hy gesê.
Windhoek se munisipaliteit het ná die eerste rommelvloed belowe hulle sal help om die gemors op te ruim.
“Hulle het met vragmotors en 'n voorlaaier hier opgedaag en wou skoonmaak. Maar hulle het hoofsaaklik sand uit die rivier gery en die vullis net gedeeltelik begrawe.
Die rommel moet met die hand opgetel word.
“Dit is onder takke, in die damme, teen die kante van die rivier en in die veld. Om net met 'n voorlaaier in die rivier in te ry en sand op te tel, help niks nie.
Ek en my werkers sal seker maar weer die gemors moet skoonmaak,” het hy gesê.
Volgens nog 'n inwoner is die groot getal vuil babadoeke van groot kommer gegewe die uitbreking van hepatitis E in informele nedersettings.
“Die doeke spoel in die damme in, lê in die veld rond en die diere vreet die gras en suip uit die dam. Dit kan nie goed wees nie,” het hy gesê.
“Mense is altyd so bly oor die reën, maar vir ons is dit nie meer lekker nie, want ons weet as die rivier afkom, kom die rommel en ons moet skoonmaak.”
Dié inwoner sê dit skep 'n swak beeld van Namibie en veral Windhoek by toeriste wat met die grondpad na gasteplase ry.
“Hulle moet hierdeur ry en die rommel lê op die straat en in die veld. Dit lyk nie goed nie. Ek skaam my elke keer as ek toeriste sien ry.”
Die munisipaliteit het teen druktyd nie op vrae gereageer wat aan hulle gestuur is nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie