Nát, natter Noorde in Februarie
Alhoewel La Niña-toestande tans ietwat verswak, lyk die kanse op reën in die komende maande steeds belowend.
Elvira Hattingh
Anders as in Suid-Afrika, kan Namibië reën in die komende weke verwag – veral in die Noorde. Reënbuie van meer as 50 mm kan tot in die laaste week van Februarie in die Noorde voorkom, alhoewel baie min reën oor die Suide verwag word.
Terselfdertyd word swaarder reën in veral die tweede deel van Maart voorspel.
Só sê die onafhanklike landboumeteoroloog, mnr. Johan van den Berg, in sy jongste weervooruitskouing wat gister uitgereik is.
Hy is boonop baie optimisties oor die 2021-‘22-reënseisoen: “Alhoewel La Niña-toestande tans ietwat verswak, verwag weervoorspellers dat dié weerverskynsel – of ten minste neutrale weertoestande – ook vir ons opvolgende somerreënseisoen sal terugkeer.
“Die kans dat ‘n El Niño kop sal uitsteek, is skraal. Dit is ‘n aanduiding dat gunstige reëntoestande oor Suider-Afrika tydens die 2021-’22-somerreënseisoen sal voortduur.”
DROOGTESPEL VERWELKOM
Van den Berg sê egter wat Suid-Afrika betref, word ‘n droogtespel vir die meeste van Februarie verwag, maar dit sal na verwagting deur die meeste somergraanboere verwelkom word. “Swaar reën word egter weer vanaf Maart verwag,” het hy gesê.
Net soos té veel reën die plant van mielies in Namibië se Mieliedriehoek ietwat belemmer en vertraag het, het swaar reën en storms skade aan gewasse in onder meer die noordwestelike en oostelike Vrystaat veroorsaak. Tog word rekordoeste in die buurland se Noordwes-provinsie en dele van die Vrystaat en Mpumalanga verwag.
Van den Berg sê tans word ‘n toename in dieresiektes opgemerk en na verwagting sal dit in die volgende twee maande toeneem weens poele water wat oral staan en ideale toestande skep vir insekte soos muggies en muskiete om te broei.
LA NIÑA SWAKKER
Van den Berg meen vanjaar se La Niña-weerverskynsel “presteer na verwagting” as dit by swaar reën en vloede kom.
“Dit is die tipiese impak van La Niña op die reën. Daar is egter steeds kleiner gebiede wat nog nie reën ontvang het soos wat ‘n mens tydens ‘n La Niña sou verwag nie,” het hy gesê.
La Niña-toestande is egter besig om te verswak, maar hy sê dit kan steeds tot in April vanjaar wêreldwye klimaatstoestande oorheers. Die La Niña-verskynsel word dikwels vereenselwig met beter reënneerslae in Suider-Afrika.
“Die El Niño- Suidelike Ossillasieklimaatspatroon (Enso) keer gewoonlik tussen April en Augustus terug na neutrale vlakke,” verduidelik hy.
Hy sê ook die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI), wat ’n maatstaf is van die verband tussen seeoppervlaktemperature en oorhoofse weerstelsels, handhaaf steeds matige tot sterk La Niña-tipe indekswaardes.
Dit staan tans op +13,95 op ‘n skaal van +30 (wat op ‘n baie sterk La Niña sou dui) tot -30 (wat op ‘n baie sterk El Niño sou dui).
Boonop is die Indiese Oseaan-dipool (IOD) indeks steeds neutraal en sal dit volgens voorspellings of só bly, óf meer negatief neig – wat ook bydra tot gunstige reëntoestande in Suider-Afrika.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie