NSFAF ry hobbelpad
Oënskynlike fopnuus en dreigende betogings vererger die studentehulpfonds se uitdagings.
Augetto Graig
Asof eksamens nie genoeg hoofbrekens veroorsaak nie, is daar studente wat hulle boonop oor klasgeld en ander uitgawes bekommer.
Dít omdat die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) glo met fondse vir dié doeleindes sloer.
Die hulpfonds is onlangs in die sosiale media glo valslik daarvan beskuldig dat hulle miljarde verloor het tydens hul vennootskap met Bank Windhoek.
Bank Windhoek is vanjaar aangestel om die verspreiding van die NSFAF se fondse te behartig, en het geen amptelike kommentaar op dié inligting gelewer nie.
Die NSFAF het dit op Facebook ontken.
Intussen moes verteenwoordigers van die hulpfonds en Bank Windhoek Woensdag by die Windhoek-polisiekantoor se raadsaal met vakbondleiers van die Studente-unie van Namibië (Sun) vergader om 'n protesoptog te probeer verhoed.
Lede van die unie sou Vrydag by die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust) byeenkom om na Bank Windhoek se hoofkantoor in die middestad en dan na NSFAF se nuwe gebou in Eros te marsjeer.
Volgens mnr. Bernard Kavau, Sun se sekretaris-generaal, het Bank Windhoek ingestem om die kampusse van die Universiteit van Namibië (Unam) en die Internasionale Bestuursuniversiteit (IUM) weer te besoek om studente van NSFAF-kaarte te voorsien.
Hy sê die hulpfonds het ingestem om 1 500 studente se toelaag vir nieklasgeld te verhoog.
NSFAF het Woensdag in 'n verklaring gesê die betaling van klasgeld geniet voorkeur.
“Tot dusver het ons die meeste klasgeldrekeninge by verskeie hoër onderriginstellings vereffen. Die paar uitstaande betalings is weens 'n vertraging in fakture of die verifiëring daarvan,” het die NSFAF gesê.
Op 21 Oktober het die hulpfonds nieklasgeld-rekeninge begin verwerk en vereffen.
Aangesien die hulpfonds vir 'n studentebevolking van meer as 35 000 verantwoordelik is, is bondel-uitbetalings glo gedoen.
Interne verifiëringsprosesse beperk uitbetalings tot 1 500 per dag, sê die fonds.
Nog 'n beperking is die feit dat die ministerie van finansies die NSFAF se N$1,1 miljard-begroting glo in paaiemente verskaf.
Daarom, sê die fonds, beperk hy uitbetalings tot N$10 000 per student en sê die res sal betaal word “wanneer fondse beskikbaar is”.
Ondanks die vertragings en beperkings het die NSFAF met hoër onderrig-instellings gereël dat studente eksamen kan skryf al is hul rekeninge nie op datum nie.
Die Namibiese Nasionale Studenteorganisasie (Nanso) se president, me. Ester Simon, is veral bekommerd oor die ontwrigting van studente se konsentrasie.
Sy sê haar vakbond is 100% teen enige staking of betoging gekant.
Sy waarsku teen “elemente in die huidige politieke klimaat” wat studente wil aanhits en sê studente moenie hiertoe gedwing voel nie.
“Nanso sal vir jul onthalwe veg, soos ons reeds doen,” sê sy.
Simon sê studente is gefrustreerd omdat hulle lank vir geld moet wag.
“Die nieklasgeld is vir taxi's, verblyf en basiese noodsaaklikhede. Studente worstel al die hele jaar om te oorleef. NSFAF het die geld ontvang, maar hul uitbetaling is baie stadig. Uitbetalings het begin, maar dit moet dringend bespoedig word,” sê sy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie