!Nowoseb tot 44 jaar gevonnis
Die mesmoord op 'n jong vrou in die Outjo staatshospitaal het aan haar moordenaar 44 jaar agter tralies besorg.
Jacqueline Louw
“Daar kan geen moontlike regverdiging vir Hendrik !Nowoseb se optrede wees nie,” het regter Christie Liebenberg gister in die hoërhof in Windhoek gesê voordat hy hom effektiewelik tot 44 jaar gevangenisstraf gevonnis het vir die brutale moord op die 24-jarige me. Willemina Tsauses.
Regter Liebenberg het !Nowoseb (25) 40 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op Tsauses op 7 Desember 2014 in die Outjo-staatshospitaal en agt jaar tronkstraf vir poging tot moord wat spruit uit 'n onderonsie met Tsauses se nuwe vriend 'n dag voor haar dood.
Die regter het verder beveel dat vier jaar van die vonnis vir poging tot moord saam met die vonnis van 40 jaar uitgedien word.
!Nowoseb is verlede week skuldig bevind op klagte van moord en poging tot moord.
Hy het Tsauses, sy voormalige meisie, die aand van 6 Desember 2014 met 'n mes in die kamer wat sy met haar nuwe vriend gedeel het, aangeval. Dié voorval het Tsauses se vriend, mnr. Deodorius Khamuxab, met 'n meswond aan sy wang gelaat toe hy tussenbeide getree het in die aanval op Tsauses.
Die beseerde Tsauses is daarna vir behandeling in die Outjo-staatshospitaal opgeneem waar !Nowoseb haar op 7 Desember in haar hospitaalbed weer met 'n mes aangeval het. Sy het op die toneel gesterf.
Regter Liebenberg het gister in sy uitspraak gesê die enigste rede waarom !Nowoseb vir Tsauses twee keer met 'n mes aangeval het, is omdat hy deur jaloesie gedryf is toe sy 'n verhouding met 'n ander man begin het ná hulle verhouding verbrokkel het.
Die feit dat !Nowoseb Tsauses by haar huis en in die hospitaal, beide plekke van veiligheid, aangeval het, het as verswarend in sy vonnisoplegging getel. Die regter het verder genoem die belang van die samelewing weeg in !Nowoseb se geval swaarder as sy persoonlike omstandighede.
Regter Liebenberg het in sy uitspraak genoem dat Tsauses vermoor is omdat sy haar liefdesverhouding met !Nowoseb beëindig het en dat daar geen ander rede was hoekom die jong lewe van Tsauses op die ouderdom van 24 jaar kortgeknip is nie. Liebenberg het verder gesê dat die samelewing deur die oppergesag van die reg beheer word, maar dat wetsgehoorsame burgers telkemale in hul wese geskok word oor die vlaag van moorde en ander ernstige misdade wat meestal teen weerlose vroue op die mees brutale en gevoellose wyse gepleeg word.
“Dit was 'n flagrante moord wat tot openbare woede gelei het,” het die regter gesê.
Hy het wel in sy vonnisoplegging die twee jaar en nege maande wat !Nowoseb reeds sedert sy inhegtenisneming in aanhouding deurgebring het, in ag geneem.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie