Note 7 kan Samsung miljarde dollar kos
Note 7 kan Samsung miljarde dollar kos

Note 7 kan Samsung miljarde dollar kos

Produksie gestaak
Jo-Mare Duddy Booysen
Die ontploffende Galaxy Note 7 kan Samsung Electronics soveel as US$17 miljard kos, sou hy besluit om dit heeltemal uit die mark te verwyder.

Samsung het gister gesê alle produksie van die Note 7 word gestaak en dat meer as 190 000 van dié fone uit China herroep word.

Die maatskappy het verlede maand 2,5 miljoen eenhede herroep toe van hulle ontplof en aan die brand geslaan het.

Samsung het Maandag aan verspreiders gesê om op te hou om die fone te verkoop en om te ruil. Hulle het ook gebruikers gevra om hul fone af te sit terwyl hulle die jongste berigte ondersoek van fone wat aan die brand geslaan het.

Sommige beleggers en ontleders voorspel Samsung kan besluit om van die Note 7 ontslae te raak en om na ander modelle aan te beweeg om die skade te beperk wat dit finansieel en aan hul reputasie berokken.

“In die ergste geval kan Amerika besluit die produk is fundamenteel gebrekkig en verkope van die toestel verbied,” sê Song Myung-sub, ’n ontleder by HI Investment Securities.

Sou Samsung ophou om die Note 7 te verkoop, sal dit ’n verlies van tot 19 miljoen fone beteken, oftewel US$17 miljard wat die maatskappy verwag het om uit verkope van dié model te genereer, sê ontleders by onder meer Credit Suisse.

Dit is baie meer as die US$5 miljard in verbeurde verkope en herroepkoste wat ontleders oorspronk­lik verwag het Samsung gaan ly, sou hy wêreldwye verkope van die Note 7 later in die vierde kwartaal hervat. Die kanse daarvoor lyk nou skraal.

“Dit het waarskynlik die Note 7-handelsnaam doodgemaak,” sê Edward Snyder, besturende direkteur van Charter Equity Research.

“Teen die tyd dat hulle die probleem reggemaak het en deur die proses van hersertifisering en herkwalifisering is, gaan hy teen die Galaxy S8 meeding,” voorspel Snyder.

Samsung, met ’n markwaarde van US$235 miljard en US$69 miljard in kontant teen die einde van Junie, kan die verlies van een model absorbeer.

Die groter probleem is die langtermynimpak op sy reputasie en handelsnaam, sê kenners en ontleders.

“Ons dink die Note 7-storie kan die aanvraag na Samsung se ander slimfoonmodelle ook beïnvloed,” sê ’n ontleder by Nomura.

Verizon Communi­cations, die grootste netwerkverskaffer in Amerika, oorweeg reeds om sy bemarkingspogings weg te skuif van die Note 7, het ’n woordvoerder van die maatskappy Maandag gesê. Dit sal waarskynlik die aanvraag na mededingers soos die nuwe Google Pixel en Apple se nuwe iPhone verhoog.

“Hulle moet ’n brief met ’n verskoning en ’n vorm van vergoeding aan elke kliënt stuur. Dit gaan duur wees, maar die enigste ander opsie is om dieselfde pad as Nokia en BlackBerry te volg,” sê Stephen Robb, ’n vennoot by die Britse regsfirma Weightmans. ­Die maatskappy het melding ontvang van 92 batterye wat oorverhit het in Amerika, insluitend 26 wat aan die brand geslaan het en 55 gevalle van skade aan eiendom. 

- Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-12-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer