Noord teen suid in hewige eindstryd

Die beste van die talent van die platteland sal vir die derde naweek op ’n streep uitgestal word.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - ’n Opwindende eindstryd is in die vooruitsig wanneer die topspanne in die Namibië Rugby-unie (NRU) se eerste liga komende Saterdag ontmoet.

Bykans ’n duisend kilometer lê tussen Keetmanshoop en Grootfontein, maar as hoogtepunt van die landwye klubkompetisie sal dié twee dit uitspook om die nuwe titelhouer te word nadat verlede jaar se wenklub Vikings van Swakopmund in die semifinaal uitgeskakel is.

Keetmanshoop en Vikings was laas naweek in ’n wipplankwedstryd gewikkel, voordat die suidespan met 28-18 die knoop deurgehaak het. Die Keetmanshopers, afgerig deur Western Suburbs se voormalige losvoorspeler Brandon Walters, se groter fiksheid het uiteindelik die deurslag gegee.

Keetmanshoop het die eerste trefhou geslaan toe sy buitesenter Christo Gresse vir ’n onderskepdrie van sy eie kwartlyn af deurgenael het. Die plaasvervanger-agterspeler Jonathan Smith was die enigste ander driedrukker, terwyl heelagter Shaun Farmer se skoen die deurslaggewende faktor met vier strafdoele en ’n doelskop was.

Dit was Keetmanshoop se eerste reis na Windhoek vir ’n uitklopstryd, nadat hy die vorige naweek tuis sy kwarteindstryd teen Ocean Swallows van Lüderitz met 27-6 beklink het.

• Die ander semifinaal was opnuut ’n indrukwekkende vertoning deur Grootfontein, wat die vasberade Sparta van Walvisbaai met 24-21 uitgeskakel het (rustyd 24-11).

Grootfontein was nie heeltemal so vloeiend as die vorige naweek in die kwarteindstryd, toe hulle vir Vipers van Windhoek met 84-14 oorrompel het nie.

Een van die verskille was dat losskakel Siegfried Potgieter nie dié keer kon saam reis nie, met Jurgens Liebenberg wat nietemin teen die sterker opposisie ewe skaflik in die 10-trui gespeel het.

Grootfontein se agttal staan vir min uitdagings terug en het die oorhand gehad, selfs nadat loskopstut Johnny Redelinghuys die veld met ’n skouerbesering verlaat het en ondanks geel kaarte vir vaskopstut Pieter du Plessis en senter Braam Alberts.

Die blou-en-wit truie se mees indrukwekkende faset is waarskynlik hul ondersteunende spel – die manier hoe baldraers hul aangeë vanuit enige duikslag kan wegkry en hoedat daar altyd ’n man in posisie is om die beweging vorentoe te neem.

Hierdie aspek van Grootfontein se spel was die afgelope twee naweke ’n openbaring en sal Saterdag nie net een van Keetmanshoop se groot uitdagings wees nie, maar sal inderdaad ’n hand vol wees vir enige opponent in die NRU premierliga – sou die noordespan dalk besluit om in die land se hoogste liga werklik sy spiere te bult.

Grootfontein het uiteindelik vier drieë gedruk, naamlik deur haker Jacques (Koper) Grobler, flank en kaptein Wikus Jacobs en die senterpaar Silvano Beukes en Braam Alberts. Twee van die vleuel Corné Labuschagné se doelskoppe was oor, maar die span se stelskoppers het inderdaad kleigetrap.

Aan Sparta se kant het senter JC Steenkamp en vleuel Karim Visagie sy drieë gedruk. Die losskakel Dion Venter het met twee strafdoele geslaag.

• In nog ’n uitspeelwedstryd vir posisies het St. Lou van Rehoboth sy stryd teen Oranjemund met 33-12 beklink. Dit was te danke aan sy driedrukkers Dario Vries (losskakel), Nando Dentlinger (senter, Dian de Klerk en Romini Benade (vleuels), terwyl heelagter KC Beukes vier keer verdoel het.

Die bulstryd tussen Gobabis se Eastern Bulls en Mariental se Southern Bulls is met 42-28 deur die suidespan beklink, wat die vorige naweek ook teen Dolphin met 67-15 gewen het.

• Die semifinale van die trofee-afdeling (plaat) is deur onttrekkings ietwat gekompliseer, maar drie wedstryde is wel vir komende naweek in die Hage Geingob-stadion geskeduleer:

Vrydag: Vipers teen Unam III (18:30), uitspeel vir vyfde plek.

Saterdag: Southern Bulls tn St. Lou (13:00), trofee-finaal. Grootfontein tn Keetmanshoop (15:00), bekerfinaal.

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer