Noodtoestand ku00e1n verleng word
Noodtoestand ku00e1n verleng word

Noodtoestand kán verleng word

Denver Kisting
Denver Kisting – Hoewel die regerende party nie meer ’n tweederdemeerderheid in die Nasionale Vergadering (NV) het nie, benodig Swapo net nog een LP se stem om ’n nuwe noodtoestand te verleng.

Dít is moontlik mits alle Swapo-LP’s ten gunste van ’n verlengde noodtoestand stem.

Daar word aanvaar dr. Esther Muinjangue, die leier van die National Unity Democratic Organisation (Nudo) en adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste, sal moontlik uit opposisiegeledere die verlenging ondersteun.

Pres. Hage Geingob het Vrydagmiddag gesê ’n besluit is nog nie geneem oor die verlenging van die huidige noodtoestand wat eerskomende Donderdag ten einde loop nie. “Is daar ’n behoefte om die noodtoestand te verleng? Ons gaan oor vyf dae bepaal of daar ’n behoefte is.”

Die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. McHenry Venaani, het verlede week gesê die amptelike opposisieparty sal nie ’n verlenging van die noodtoestand ondersteun nie.

Geingob het Vrydagmiddag erken vanweë die impak van die regering se maatreëls om die verdere verspreiding van Covid-19 hok te slaan, hét die kabinet loonverminderings vir staatsamptenare en politici bespreek.

Dié weg vorentoe is egter nog in onsekerheid gehul.

Hy wat Geingob is, skenk reeds maandeliks nagenoeg 30% van sy salaris aan welwillendheid en behoeftige mense, sê hy.

Maatreëls tot Donderdag

Die reisverbod wat tans vir in en uit Windhoek, Okahandja en Rehoboth geld, bly sedert gister in plek vir die volgende vyf dae.

So het Geingob Vrydagmiddag by Staatshuis gesê toe hy tydens ’n virtuele nuuskonferensie aangekondig het die hele land bly in fase 3 vir die volgende vyf dae.

Die huidige fase 3-bedeling het Saterdagaand om middernag ten einde geloop.

Geingob het gesê in ’n poging om ekonomiese aktiwiteite ’n hupstoot te gee, sal die aandklokreël van gisteraand af om 22:00 afskop maar steeds tot 05:00 van krag wees. Dít geld oraloor die land.

Die aandklokreël het tot Saterdag saans om 20:00 begin.

Restaurante en kafees mag sedert gister heropen vir etes op hul perseel waartydens alkohol ook verkoop en geniet mag word.

In die vorige regime is hulle net toegelaat om wegneemetes te verkoop.

Wat sjebeens betref, het hy gesê dié instellings mag steeds net drank verkoop vir doeleindes om tuis geniet te word.

Geingob het gesê nagklubs en dobbelhuise bly steeds toe.

Die aantal mense per sosiale saamtrek, soos troues, begrafnisse en kerkdienste, is van gister af verhoog na 50 – 40 mense meer as die vorige perk van tien mense.

Kontaksport mag steeds nie hervat word nie, het hy gesê.

Alle sakeondernemings móét steeds by alle gesondheidsriglyne hou, het hy gesê.

Dit geld eweneens vir Jan en Sus Alleman, het hy benadruk.

Onder meer sluit dit in die dra van ’n masker in ’n openbare ruimte, die handhawing van sosiale afstand van 1,5 meter en gereelde handreiniging.

Enigiemand wat die regulasies oortree, word deur ’n boete van N$2 000 en/of gevangenisstraf van ses maande in die gesig gestaar.

Die Covid-19-situasie in die land wek steeds kommer, het Geingob Vrydagmiddag gesê. “Dit is ’n komplekse maatskaplike, ekonomiese en gesondheidsuitdaging.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer