Noodtoestand in die weegskaal
Die leier van die amptelike opposisie sê die regering kan die hoop dat sy party ’n verlenging van die noodtoestand sal steun op hul mae skryf.
Denver Kisting – Die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. McHenry Venaani, sê die regering se regulasies om Covid-19 hok te slaan, verkrag die ekonomie.
Hy sê dié maatreëls het boonop nie die gewenste uitwerking gehad om Namibiërs se lewens en gesondheid te waarborg nie. “Met al die inperkings behoort ons nie so ’n hoë aantal gevalle te hê nie.”
Om daardie rede, het die leier van die amptelike opposisie gisteroggend in Windhoek gesê, kan die regerende party vergeet van die hoop dat die PDM Swapo se plan om die noodtoestand te verleng, sal ondersteun.
Die huidige noodtoestand loop 17 September ten einde.
Ofskoon pres. Hage Geingob ’n nuwe noodtoestand kan afkondig, moet dit binne sewe dae deur ’n tweederdemeerderheid van die Nasionale Vergadering (NV) verleng word anders verstryk dit.
“Ons sal nie langer ’n noodtoestand ondersteun nie. Ons doen ’n beroep op die president van die land om die ekonomie oop te maak,” het Venaani gesê.
Namibië se ekonomie kan nie énige verdere skade, veral in die vorm van werkverliese, bekostig nie, het hy gemaan.
Dit verstom hom, sê Venaani, dat die regering nog nie met ’n strategie vorendag gekom het oor hoe die land met die virus sal saamleef nie. “’n Noodtoestand is nie ’n strategie nie. Ons is regtig teleurgesteld in die regering se hantering van die aangeleentheid.”
Hy het ook uitgevaar teen wat hy as ’n gebrek aan beraadslaging met politieke rolspelers beskou. “Ek het van die president (Geingob) verwag om in gesprek te tree met die politieke akteurs oor ’n strategie. Ons het hom lank genoeg die voordeel van die twyfel gegee.”
Boonop, sê Venaani, maak dit geen sin nie om ’n verkiesing te reël te midde van ’n noodtoestand. “Politieke partye vind dit baie moeilik.”
Die leier van die Independent Patriots for Change (IPC), dr. Panduleni Itula, het vroeër reeds geëis dat die regering onmiddellik die inperkings staak om die ekonomie uit die as te help herrys.
Intussen sê me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, by navraag die besluit om die noodtoestand te verleng al dan nie, word deur die Grondwet bepaal. “Enige besluit vir verlenging moet aan die NV voorgelê word.”
Daarvolgens, sê sy, sal ’n tweederdemeerderheid van die NV ten gunste van dié besluit moet stem.
Swapo het tydens verlede jaar se NV-verkiesing die eerste keer sedert onafhanklikwording sy houvas van ’n tweederdemeerderheid in die NV verloor.
Maar, sê Dausab, daar is ander wetgewing waarmee die openbaregesondheidskrisis bestuur kan word.
“Gesondheidsvoorskrifte word regeer deur die Openbaregesondheidswet 36 van 1919 en die onlangs deurgevoerde Openbare- en Omgewingsgesondheidswet 1 van 2015, spesifiek gedeelte 3 daarvan wat in werking gestel sal moet word om doeltreffend aansteeklike siektes te pak, soos die coronavirus.”
Onder laasgenoemde wet is die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste hoofsaaklik verantwoordelik vir die oorhoofse openbare gesondheid van Namibiërs, sê Dausab.
Daarnaas bepaal dit hoe die gesondheidsministerie sodanige aansteeklike siektes moet bestuur.
Sy sê ’n noodtoestand maak voorsiening vir aanvullende maatreëls om die virus se verspreiding te beveg, te beheer en te verhoed. “Maar sodra die noodtoestand verstryk, en dit word nie verleng nie, dan sal die bestaande bepalings van openbaregesondheidswette en gepaardgaande regulasies gebruik word om die pandemie te bestuur.”
Sy wys daarop dat die grondwetlike bekragtiging van ’n noodtoestand “te doen het met die afwesigheid van voldoende beleid, wetlike en geïnstitusionaliseerde maatreëls om die noodtoestand aan te spreek”.
Noodmaatreëls bied ruimte vir buigsaamheid wat prosesse betref en skort tydelik sekere bepalings van bestaande wetgewing op sodat die doelwitte van die noodtoestand vervul kan word, sê Dausab. “Dit is nie veronderstel om bestaande wetlike en institusionele raamwerke te vervang nie. Dit vul net aan of skort op om noodbedrywighede glad te laat verloop.”
Sy het opnuut benadruk ’n noodtoestand “is nie bedoel as ’n geleentheid om staatsmagte te misbruik of sinneloos die voordele en beskerming van regte van mense te verminder nie.”
Geingob sal na verwagting vandeesweek die land toespreek oor die regering se voortgesette hantering van die uitbreking.
Die huidige regime, wat ’n aandklokreël insluit, eindig eerskomende Saterdag om middernag. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie