Noodmaatreu00ebls geld reeds landswyd
Noodmaatreu00ebls geld reeds landswyd

Noodmaatreëls geld reeds landswyd

Ofskoon pres. Hage Geingob nog nie die hele land amptelik ingeperk het nie, is die meeste Covid-19-regulasies reeds orals van toepassing.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het gisteroggend by navraag bevestig die Namibiese regering se Covid-19-noodmaatreëls is reeds op die hele land van toepassing.

Dít kom te midde grootskaalse verwarring oor of Namibië reeds as ’n geheel ingeperk is al dan nie en of dit net vir Khomas (Rehoboth en Okahandja ingesluit) en Erongo geld.

Kuugongelwa-Amadhila het gister via WhatsApp gesê: “Ja, noodmaatreëls is van toepassing op die hele land. Dit is net die geen in- en uitgang in die streke wat beperk is tot Khomas en Erongo, en dít is die enigste ding wat nog nie vir die res van die land besluit is nie.”

Republikein het haar spesifiek gevra of die maatreëls oraloor geld wat verband hou met:

· die verbod op die verkoop van alkohol,

· werk van die huis af,

· die sluit van besighede wat nie noodsaaklike dienste of goedere lewer nie,

· net die huis verlaat vir kos of medisyne of dringende mediese hulp en

· die maksimum van 10 mense per geleentheid (begrafnisse en troues ingesluit).

Maandagmiddag het dr. Alfredo Hengari, pres. Hage Geingob se woordvoerder, gesê Kuugongelwa-Amadhila is gemoeid met die uitpluis van die prosedures vir die landswye inperking.

Hieroor het die eerste minister gister gesê: “Die werk wat ons gister (Maandag) gedoen het, het te doen gehad met wat reeds aangekondig is om reëlings te optimaliseer vir die doeltreffende inwerkingstelling. Enige nuwe verwikkelinge sal spoedig aangekondig word.”

Hengari het Maandag opnuut benadruk die staatshoof is oor die welstand van die land se inwoners besorg.

“Die president is omsigtig oor Namibiërs se gesondheid.”

Hy sê hoewel Geingob die afgelope dae areas in die hoofstad besoek het om hom te vergewis van nakoming van die Covid-19-regulasies wat Saterdag in die Staatskoerant gepubliseer is, sal die media nie noodwendig na elk van daardie geleenthede genooi word nie “om ’n samedromming te verhoed”.

Nuus oor die besoeke sal elektronies gedeel word, het hy gesê. Sou dit nodig word om ’n nuuskonferensie te belê, sal dit gekommunikeer word, het hy gesê.

Hengari het toegegee daar heers “ernstige verwarring oor die inperking”, maar dat hulle “ten volle met die kwessie gemoeid is”.

Inligtingminister swyg

Dr. Peya Mushelenga, die minister van inligting en kommunikasietegnologie, wat Sondag ’n brief uitgereik het oor die inwerkingstelling van die noodmaatreëls, het sedert Maandag nie op vrae gereageer om meer klarigheid te bied nie.

Volgens Geingob se aankondiging by Staatshuis verlede Vrydag sal die noodmaatreëls in dié stadium op 17 April om 23:59 ten einde loop.

Hiervolgens mag mense ook steeds reis vir die begrafnis van ’n nabye familielid, kennis of afhanklike, om bystand aan sulke mense te verleen wanneer hulle siek is of in ’n angswekkende situasie verkeer.

Enigiemand wat nie gehoor aan die regulasies gee nie, word deur ’n boete van N$2 000 of ’n maksimum van ses maande gevangenisstraf of albei in die gesig gestaar.

Die owerhede het reeds sedert Saterdag verskeie boetes uitgereik of mense in hegtenis geneem.

Elf mense het tot dusver in Namibië positief vir Covid-19 getoets.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer