Noodhulpkissie vir die nuwe normaal
Noodhulpkissie vir die nuwe normaal

Noodhulpkissie vir die nuwe normaal

Jo-Mare Duddy Booysen
Liewe Griet,

Ek wens ek kon dié brief met die hand op mooi papier skryf, dit in ‘n koevert sit, jou adres netjies in blokletters neerstip, ‘n seël opplak en dit in die rooi posbus by die hoekkafee vir jou stuur.

Soos in die ou dae.

Helaas, ou Grieta, dis ‘n vergange era. Nou spartel ons in ‘n nuwe normaal en lê die angs van hoe vinnig dinge sonder ophou verander, my skoon lam.

Maar ons posbuskinders moet bybly, dié dat ook ek deesdae my oorlewingsdoepa op die internet gaan soek.

Ek hoor jou deur jou oggendkoffieslukkies mompel: “Josie, jy’s niks lekker nie.”

Daai’s mos nie nuus nie, Griet Verdriet.

Ek – soos die res van my landgenote – is danksy meer as vier jaar se resessie lankal nie meer normaal nie. Ons koppe se skroewe en boute hoeka moer toe. Nou moet ons boonop verbete baklei dat die blerrie virus nie die spyker in ons ekonomie se doodskis is nie.

En ons sál. Ons dóén. Maar ons is bang.

“Verbeel jou jy staan voor ‘n bord, enige bord,” draal die meditasieghoeroe met die Australiese aksentstem in my ore. Hy’t iewers uit die kuberheelal via YouTube op my stoep beland met ‘n masker vir my siel in hierdie nuwe tyd.

Ek’s terug op laerskool, voel klein in die klaskamer vol vreemdelinge op die eerste dag.

“Dis net ‘n woord,” paai die stem vanuit Doer Onder.

Ek luister. Tel gehoorsaam die stukkie kryt op en begin op die swartbord skryf. Girts-girts spel die wit kalk my handskrif: B-a-n-g-w-e-e-s.

“Dis okei, dis net letters,” moedig die hipnotiese stem my bewerige hand aan.

Ek staan terug. Daar staan dit lewensgroot: Bangwees.

Uit die Land van Oz kom die volgende opdrag: “Tel die bord se uitveër op. Vee die letters uit – een vir een.”

Eers die B. A-n-g-w-e-e-s. Die a. N-g-w-e-e-s. Toe die n en die g. En toe stop ek.

Die ghoeroe praat Engels. My taal is mooier: “Wees” kyk my vas in die oë.

Nie wees soos alleen nie, maar wéés. Menswees.

En ek besef: Dalk is net wéés nou belangrik as wéét, Grietjie.

Wees bang, wees onseker, wees oorweldig. Maar weet dat wéés in die oomblik nou ál is wat ons kan doen.

Dat ons hele wese nou voluit moet lééf, dat ons elke oomblik moet gebruik om te help bou aan ‘n môre. Sonder dat die bangwees vir wat môre mag bring, ons pootjie. Treetjie vir treetjie, een dag op ’n slag. Verbete.

‘n Mens voel vasgevang in die spinnerak van die nuwe normaal. Die enigste manier om jouself daaruit los te wikkel, is om saam te spin.

Sodat wanneer die son weer opkom – en dit doen áltyd – dit die spinnerak van die lewe opnuut kan laat blink.

Tot dan, liewe Griet, weet dat wéés lafenis vir jou moeë lyf, hart en siel is.

Groetnis.

J

Kommentaar

Republikein 2025-07-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer