Nominasie van kandidate vir verkiesing skop af

Die voorlopige verkiesingsrol vir die komende verkiesings is beskikbaar vir inspeksie en besware.
Voorbereidings vir die 2020 streeksraad- en plaaslike owerheidsverkiesing is op koers.

Volgens mnr. Theo Mujoro, hoofverkiesingsbeampte van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), is voorbereidings vir die volgende fase van die verkiesingsproses afgehandel. Dit sluit die nominasie van kandidate en die openbaarmaking van die voorlopige kiesersregister in.

Die tydperk vir die voorlegging van kandidate vir die komende verkiesing het Dinsdag begin en duur tot 16 Oktober. Op 16 Oktober sal die kiesbeamptes in die 121 kiesafdelings en 57 plaaslike owerheidsgebiede die voorleggings vir kandidate en partylyste vir ’n lid van die streeksraad, sowel as die lede van ’n plaaslike owerheid ingevolge die regulasies van die verkiesingswet in ontvangs neem.

Volgens Mujoro kan die voorlegging van nominasievorms aan kiesbeamptes van ’n kiesafdeling of plaaslike owerheid tot 16 Oktober weeksdae van 08:00 tot 17:00 ingedien word. Die laaste datum vir voorlegging van die nominasie van kandidate in die geval van onafhanklike kandidate is 14 Oktober om 16:00. Die datum vir voorlegging van nominasies van politieke partye, verenigings of organisasies is 16 Oktober om 11:00.

Mujoro sê die ECN het kiesbeamptes aangestel vir elk van die 121 kiesafdelings en 57 plaaslike owerhede oraloor in die land om voorleggings deur geregistreerde politieke partye en organisasies asook voornemende onafhanklike kandidate te ontvang.

“Die kommissie het ’n inligtingsessie met alle geregistreerde politieke partye en verenigings gehad om die regsvereistes en praktiese reëlings ten opsigte van nominasieproses te verduidelik,” het hy gesê.

Volgens Mujoro was die aanvullende registrasie van kiesers vanaf 7 tot 15 September suksesvol. Met verwysing na die voorlopige kiesersregister (PVR) het hy gesê die verkiesingswet vereis dat dit gepubliseer en openbaar gemaak word vir openbare insette en moontlike besware teen die name van die persone wat in die register vervat is.

Die voorlopige verkiesingsrol vir die komende verkiesings sal in die lig hiervan tot 5 Oktober op geoormerkte plekke oraloor in die land beskikbaar wees vir inspeksie en enige besware, sê Mujoro.

“Die besware moet by die verkiesingstribunaal in die gegewe landdrosdistrik en geografiese gebied ingedien word,” het hy gesê.

Geregistreerde kiesers, politieke partye en politieke organisasies kan ’n beswaar op skrif vir die insluiting al dan nie van enige naam in die voorlopige kiesersregister indien.

Besware kan teen ’n persoon ingedien word wat onder artikel 22 van die verkiesingswet nie daarop geregtig is of kwalifiseer om as kieser geregistreer te word nie en wat nie aan die vereistes voldoen met betrekking tot waar hy of sy woon en soos vervat in die artikel nie.

Afskrifte van die voorlopige kiesersregister is vir inspeksie deur die publiek beskikbaar tydens kantoorure by aangewese persele en ook die ECN se hoofkantoor in Van Rhijnstraat in Windhoek-Wes. Besware met betrekking tot die name van kiesers wat op die lys verskyn, kan tot 5 Oktober tydens kantoorure ingedien word.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer