Nog vier sterftes, 182 nuwe gevalle
Nog vier sterftes, 182 nuwe gevalle

Nog vier sterftes, 182 nuwe gevalle

Henriette Lamprecht
Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het nog vier Covid-19-sterftes vir die land aangekondig en wel een in Swakopmund en drie in Windhoek. Die sterftes in Windhoek is onderskeidelik 'n 48-jarige man, 'n 83-jarige vrou en 'n 68-jarige vrou. Al drie het onderliggende mediese toestande gehad. Die sterfte in Swakopmund is 'n 48-jarige man. Dit bring die totale Covid-19-verwante sterftes vir die land op 31 te staan, met 12 wat die afgelope drie dae aangemeld is.

Shangula het ook 182 nuwe gevalle aangekondig waarvan 97 mans en 85 vroue is. Die jongste is een jaar oud en die oudste 85 jaar oud. Uit die 182 nuwe gevalle is 58 in Walvisbaai, 16 in Swakopmund, 91 in Windhoek, vyf in Gobabis, twee in onderskeidelik Okahandja en Okakarara, een elk in onderskeidelik Oshakati en Luderitz en drie elk in Rundu en Katima Mulilo.

Volgens Shangula is 15 gesondheidswerkers deel van die aantal nuwe gevalle wat gister aangekondig is.

Die aantal bevestigde gevalle staan tans op 3 726, terwyl die aantal mense wat ten volle herstel het met 1 494 tot 2 324 gestyg het. Die grootste persentasie van die gevalle wat ten volle herstel het is in die Erongostreek, gevolg deur Kharas en Khomas. Tans is 1 478 mense in kwarantyngeriewe oraloor in die land.

Kommentaar

Republikein 2026-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer