Nog 38 leerlinge toets positief vir Covid-19
Nog 38 leerlinge toets positief vir Covid-19

Nog 38 leerlinge toets positief vir Covid-19

Henriette Lamprecht
Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sê nog 38 leerlinge van 'n sekondêre skool in die Onandjokwe-distrik het positief vir Covid-19 getoets. Die skool het oor die naweek 48 Covid-19-gevalle aangeteken. Die 38 leerlinge is deel van die 88 nuwe gevalle wat vanmiddag deur die minister aangekondig is. Buiten vir die 38 is 24 in Windhoek, 11 in Rundu, sewe in Oshakati, drie in Swakopmund, twee in Keetmanshoop en een elk in onderskeidelik Okahandja, Gobabis en Okahao aangeteken. Volgens Shangula is die 11 gevalle in Rundu almal in die aanhoudingselle op die dorp aangeteken. Uit die nuwe gevalle is 53 mans en 35 vroue. Die jongste is vier jaar oud en die oudste 60 jaar oud.

Die minister het ook 'n sterfte aangekondig en wel dié van 'n 54-jarige vrou van Windhoek met onderliggende mediese toestande. Dit bring die Covid-19-verwante sterftesyfer op 121 te staan.

Shangula sê nog 11 mense het herstel wat die totaal op 8 787 te staan bring. Dit sluit vyf in Khomas, drie in //Kharas en een elk in onderskeidelik Omaheke, Ohangwena en Hardap in.

Uit die 2 213 aktiewe gevalle is 15 in 'n baie ernstige of kritieke toestand. Dit sluit een baie ernstige en drie kritieke gevalle in Erongo en drie baie ernstige en agt kritieke gevalle in Khomas in.

Huidig word 9 459 kontakte gemonitor, 96 041 weefselmonsters is reeds getoets en 1 134 mense is in kwarantyngeriewe oraloor in die land.

Kommentaar

Republikein 2025-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer